Digbundels: resensies in Rapport

In Sondag se Rapport  boekebylae (3 Junie 2012) het daar drie spaars kommentare verskyn as lokmiddel na resensies oor drie digbundels naamlik, Lot se Vrou (Joan Hambidge), Amper elders (Louis Esterhuizen) en Pirouette (Aniel Botha).

Die drie paragrafies was heel onder aan die bladsy waarop ‘n Engelse digbundel bo prominent aandag ontvang. Ongelukkig was die resensies oor hierdie Afrikaanse bundels nêrens te vinde op Rapport se boekeblad nie (nie die Sondag of Maandag daarna nie) en dus sou menige leser sekerlik sy soektog gestaak het!

Die resensies is egter pas eers vandag (Dinsdag, 5 Junie) geaktiveer en Versindaba plaas graag die skakels hier vir die wat dit gemis het:  

‘n Toekomsvisie uit die verlede. Lot se Vrou (Joan Hambidge). Resensent: Nini Bennett

Poëtiese simfonie. Amper elders (Louis Esterhuizen). Resensent: Marlies Taljard 

Obsessie en stryd. Pirouette (Aniel Botha). Resensent: Marius Crous

Bookmark and Share

13 Kommentare op “Digbundels: resensies in Rapport”

  1. Desmond :

    ‘n Verdere probleem is dat Rapport se weeklikse boekeblad deesdae gewoonlik net ‘n halfblad is; meestal net een resensie geplaas word; en baie dikwels ‘n onderhoud of ‘n soort promo-artikel eerder as ‘n resensie.

    Wat die samesmelting van die drie Afrikaanse dagblaaie se boekeblaaie betref: behalwe dat dit saamgesmelt het en minder resensies dus geplaas word, is daar deesdae ook baie minder teks op die blad as in die verlede. Minder en korter resensies.

  2. Breyten Breytenbach :

    En ons het dit gewéét, gesien kom, hét geprotesteer en selfs georganiseer… Kortom, ons het die t-hempies en die buikloop om te bewys dat ons daar was.

    “Vanity! All vanity!” soos die Prediker gesê het.

  3. Marlise :

    Desmond, daar is minder teks omdat die foto’s so baie en groot is! Neem ‘n paar foto’s weg en jy het genoeg ruimte om ‘n resensie te plaas. Die foto’s word skynbaar net al hoe meer, totdat daar nou net plek is vir ‘n ou skakeltjie na die eintlike resensie toe op die internet. (Mits jy gelukkig is dat dit gelaai is, bygesê). Miskien moet koerante maar net ‘n klomp skakels publiseer op twee bladsye vir alle berigte – “Sondagskakels AllesInEen.co.za” …sjoe hulle sal dan sommer banja geld bespaar!

  4. Johann Lodewyk Marais :

    Marlise, die foto’s in Afrikaanse koerante word al groter en groter.

  5. Ivan Mocke :

    Dis omdat die koerante dink dat hulle met die TV moet kompeteer … Opspraakwekkend, sensasioneel & “in your face”. Plaas hulle probeer om beter “koerante” te moet wees. Wie hert gisteraand na Rykie van Heerden op kykNet gekyk? Tóé het joernaliste nog ‘n trots gehad in die werk wat hulle doen. Vandag spandeer hulle 80% van hul kreatiwiteit daaraan om te worry of hulle nog volgende maand werk gaan hê. Die foto’s en ook advertensies word gebruik om hierdie gebrek aan toewyding toe te smeer.

  6. Desmond :

    Behalwe dat die foto’s groter en groter word het, is hulle ook toenemend (so voel dit vir my; ek sal meer sistematies moet gaan kyk) van die skrywer eerder as die boek onder bespreking. Dit klink dalk soos ‘n belaglike ding om oor te kla, maar dit verraai tog ‘n ongesonde soort verskuiwing van ‘n analitiese fokus op ‘n bepaalde teks na ‘n meer oppervlakkige fokus op die skrywer as ‘persoonlikheid’ of ‘selebriteit’.

    Nou is dalk die regte tyd om opnuut te protesteer. Hulle het ‘n jaar of wat gehad om te wys hoe die nuwe bedeling werk. ‘n Mens kan mos nou gaan kyk of Tim du Plessis sy beloftes van destyds gestand gedoen het.

  7. Ivan Mocke, sonder advertensies sal daar geen koerante wees nie. En jy bedoel seker Rykie van Reenen. Sonder advertensie-inkomste sou sy ook nie ‘n loopbaan gehad het nie.

  8. Ivan Mocke :

    Heeltemal reg op albei punte, Daniel. Rykie van Reenen bedoel. Gepraat van advertensies: hoekom laat die koerante nie die uitgewers betaal vir resensies wat geplaas word nie? Dan sal hulle (die uitgewers) ten minste seggenskap hê oor hoe hierdie aspek van bemarking hanteer word.

  9. Gysbrecht Fourie :

    Dis duidelik dat Media24 nie hulle beloftes teenoor skrywers, uitgewers en lesers nagekom het nie. Daar is gesê behalwe die weeklikse boekeblad in die koerante en op die internet, daar ook baie meer gereeld in die nuuskolomme berigte oor skrywers en boeke sou wees. Dit was dan inderdaad ook so – maar net vir ‘n baie kort tydjie, totdat die nasionale boekeredakteur ook redakteur van Rapport se oppervlakkige glanstydskriffie geword het. Toe hou dit skielik net heeltemal op. (Ek verneem die nasionale boekeredakteur beklee hierdie pos nou net op ‘n kontrakbasis nadat sy die ander werk ook gekry het.) Daar is ook belowe dat Huisgenoot ‘n boekebylae sou kry – dit het net ‘n paar keer verskyn en het toe ook opgehou. Rapport se dekking van boeke is nie eers die moeite werd om oor te praat nie – daar suig die Afrikaanse boek ook aan die agterspeen en word voorkeur gegee aan Engelse boeke. Media24 het skrywers, uitgewers en boekliefhebbers lekker deur die ore gen***. Dumbing down? Onteenseglik.

  10. Jy is reg, Gysbrecht, die situasie raak kritiek. Daar het die afgelope halfeeu nog nooit so min resensies van Afrikaanse boeke verskyn nie. Die skraal resensieruimte wat daar is, word nog skraler deurdat soveel buitelandse boeke bespreek word. Waarom? Resensies oor sulke boeke is tog vrylik op die internet beskikbaar. Dit lyk werklik asof Afrikaanse boeke willens en wetens benadeel word deur die Afrikaanse pers.

  11. Desmond :

    Gysbrecht Fourie skryf: “…totdat die nasionale boekeredakteur ook redakteur van Rapport se oppervlakkige glanstydskriffie geword het. Toe hou dit skielik net heeltemal op. (Ek verneem die nasionale boekeredakteur beklee hierdie pos nou net op ‘n kontrakbasis nadat sy die ander werk ook gekry het.)” Hierdie is baie belangrike punte.

  12. Clinton V. du Plessis :

    Ek onthou die dae toe Coenie Slabber Sondag na Sondag ‘n opwindende hutspot van boeke en boekenuus op sy blad in Rapport kon plaas. Sy oor was op die grond en hy het die entoesiasme gehad…

  13. Pieter Odendaal :

    De Lange se “Vaarwel, my effens bevlekte held” is onlangs deur Louise Viljoen vir SLiPnet geresenseer. Die volronde resensie kan hier gelees word:
    http://slipnet.co.za/view/reviews/johann-de-lange-se-beenwit-woorde/

  •