Lemminkäinen se Moeder, deur Akseli Gallen-Kallela.
Pietà
as fokuspunt vorm vrou en kind, ʼn kruis.
Lemminkäinen lê leweloos langs
die Tuonela se tydsame water, bleek
op ʼn klipperige oewer uitgestrek
die oë, asof hy net slaap, is met doek bedek
by die opdrifsels van towery en oorskot;
in sy ma se voorarm bol spiere belynd.
die goue golwing oor die swart water dubbelsimbool,
vroeër koper spore van die opeenhark van haar seun se stukke
nou die suggestie van strale genade.
helder oë in die gebeitelde gesig herken
stroef die skaars sigbare hommelby, wat
sag vir haar ontslape seun die heuning en beloftes
van lewe vanaf die gode bring.
in die linkerkantse hoek, immer drywend, bo
kyk wasig die swaan, onbetrokke, toe.