Illustrasie deur Alberto Vazquez
stiljag
my roofvoël stiljag:
wag kloue ingetrek
en stip
want ek het beloof
die prooie kom
die prooie uit die bergland kom
knaagdiere met stippelspore
kom soos klankryke klinkers
en anderkant die struike
ruik slange se spleettonge
die lug –
vlug voor gerugte van sy skaduwee
op die boekeberge wei my verse
waar die roofvoël haastig wagtend waak –
sterre wat swerm bo sy kop
my roofvoël my vers
moenie dat vrese ons jag nie;
koggelmanders en koggelaars
sal straks ons berg se hakskeen lek
saans slaap ek in die rotskamers onder jou kranse
en soggens pluk ek vir jou voëltjies
met ‘n fyn-fyn rym –
beweginglose bont stiltes
as jy net weer sal sweefstyg
as jy eenmaal weer jou vlerke oopspalk soos ‘n kruis
kan ons saam die warm lig en lugstrome aanbid;
ons kan valke beroof, ek en jy
en die bome voller laat loof as tevore
eendag sal my vingers weer soos vere sprei
en ek sal skryf in offersand –
‘n woord soos “stiljag” in my hand
Uitstekend! Baie geluk! ‘n Mooi afrikaanse gedig is ‘n rare verskynsel in ons hedendaagse samelewing! Hou so aan!
Carina, moet asseblief nooit ophou gedigte pleeg nie! Dit is baie besonders – geluk.
Vanmiddag gehoor ek’t 3de gekom in Versindaba & Cordis Trust se beelddigkompetisie. Dis die 2de gedig wat ek in 2 jaar pleeg & ek’t al beginne wonder of ek ooit weer kan/ gaan dig. (Dis dan ook waaroor die gedig gaan – die stiljag na ‘n gedig.) Nou ja, mens kan dit amper nie verhelp nie, maar sulke stukkies erkenning is tog goed vir die moed:). Hier’s die skakel: https://versindaba.co.za/2013/01/30/beeldgedig-42-stiljag/
ongelooflik