In memoriam. Carl Mischke: 1965 – 2013
Carl Mischke is ‘n digter wat 1984 by Human & Rousseau gedebuteer het met die bundel Interne weerstand. Verlede week het sy huisbediende op sy lyk in sy woonhuis in Norwood, Johannesburg, afgekom. Hy was vermoor en beroof van bepaalde items. Lt. kol. Lungelo Dlamini, van die Noordwes-polisiestasie, word soos volg op Nuus24 se webblad aangehaal: “’n Skerp voorwerp is vermoedelik gebruik om hom te steek. Hy het op sy bed in ‘n plas bloed gelê. Sy kop was met ‘n kussing bedek. Geen moordwapen is op die toneel gevind nie,” het Dlamini gesê. Volgens die berig vermoed die polisie dat sy moordenaars moontlik sy voertuig en ander waardevolle items geneem het. Die motief vir die moord is nog onbekend, hoewel die polisie vroeër gesê het die moord word verbind met ‘n bende wat gay mans in Johannesburg en Kaapstad teiken. “
Mischke was in sy lewe as hoogleraar verbonde aan die Universiteit Johannesburg. Hy was ‘n regsgeleerde wat in Arbeidsreg gespesialiseer het.
By wyse van huldeblyk plaas ons graag ‘n gedig van hom wat in sy debuutbundel verskyn het.
***
Requiem aeternam
lux perpetua luceat eis
bid (vir) ewig vir my
in ‘n deurskynende perspeksblok
– maar nie deursigtig nie
ek wil hul klipkerke nie sien
as ek dood is nie
lamineer my tussen glasplate
van onder af op
die beeld het klein voete
hang my op die mure
soos een wat in sy gedagtes
die dae tel
© Carl Mischke (Uit: Interne weerstand, 1984: Human & Rousseau)
Kyk na my gedig op Litnet en op my blog:
In Memoriam: Carl Mischke *
Each of us has his own rhythm of suffering.
– Roland Barthes
Interne weerstand,
só beskryf jy hierdie proses,
in ’n ander tydsgewrig.
Meegaande gedig,
waaroor ander regters oordeel,
’n obiter dictum
vir jou wat jou einde
unheimlich aankondig:
Vesting
“Ten minste
is ek veilig hier.
Bedags blaf
opreggeteelde honde;
snags gloei versteekte oë
– infrarooi wonde.”
Jy is meer as ’n statistiek
of kortsluiting:
jou oorlye laat ’n merk, ontwrig
diegene wat in jou
veld van aantrekking beweeg het.
Ons sal jou onthou:
Groot verseboek
is immers ’n Fort Knox
waar geen moordenaar betree.
Ingeperk, ja geskaad,
maar met ’n locus standi,
’n holte vir die voet
binne die kanon
nóg een wat voortydig
die digkuns verlaat.
* Hierdie vers is op versoek van Litnet geskryf.
(c) Joan Hambidge
http://joanhambidge.blogspot.com/p/nuwe-verse.html