Johann Lodewyk Marais. Huldeblyk aan Carl Mischke.

Carl Mischke (1965–2013) 

Johann Lodewyk Marais 

Toe ek verlede week van die regsgeleerde prof. Carl Mischke (1965–2013) se tragiese dood hoor, het my gedagtes na die middel-1980’s teruggaan toe ek hom as digter leer ken het. Mischke het in 1984 met Interne weerstand gedebuteer, en gedigte van hom het in die tydskrif Ensovoort, waarvan ek die redakteur was, verskyn. As die poësieredakteur van LitNet het ek weer van sy gedigte gepubliseer.

 

Mischke het aan die Universiteit van die Witwatersrand in die regte gestudeer, maar ook in die destydse Departement Afrikaans en Nederlands van dié universiteit klas geloop. Met sy debuut op negentienjarige ouderdom het hy aangesluit by tydgenote soos Annesu de Vos en Theunis Engelbrecht, wat jonk gedebuteer het. Interne weerstand is aan sy medestudent, Annesu, opgedra.

 

Ek het Mischke in 1985 by die beraad van die Afrikaanse Skrywersgilde by Wits ontmoet. Dit was ’n donker winter in die Suid-Afrikaanse politiek, maar by die beraad kon ons die intellektuele vertoon van Elize Botha, J.M. Coetzee en Nadine Gordimer meemaak. As jong skrywers was ons terdeë bewus van ’n era wat van ons morele betrokkenheid geëis het. Mischke se skerpsinnigheid en progressiewe belesenheid het my opgeval.

 

Afrikaanse literatuurgeskiedenisse het Mischke byna totaal vergeet. J.C. Kannemeyer wy darem in Die Afrikaanse Literatuur 1652–2004 (2005) ’n halwe sin aan hom: “Alhoewel nie sonder sy effekte nie dra Carl Mischke se Interne weerstand (1984) nog te swaar aan ’n intellektuele bolaag […].” Dié verontagsaming van Mischke en ander “randfigure” is kenmerkend van ons letterkunde wat meestal oor hooffigure skryf.

 

In Interne weerstand is Mischke bewus van die onmenslikhede van die moderne samelewing, terwyl die wetenskap en tegnologie in heelparty van die gedigte betrek word. Reeds met die titel van die bundel stel die digter hom as ’t ware op teen sosiopolitieke probleme en onreg. Met die vrye vers wat hy beoefen het, was sy werk kenmerkend van die Afrikaanse poësie sedert Sestig, maar tematies het hy by tydgenote soos Johan van Wyk en Pieter Smit aangesluit.

 

Mischke het op 1 Januarie 2013 professor in Arbeidsreg aan die Universiteit van Johannesburg geword. Voorheen was hy ’n dosent aan UNISA en het hy ook in ’n privaat praktyk gestaan. Sy talle regspublikasies onderstreep die bydrae tot sy vakgebied én wat hy op dié gebied vir mense beteken het. Met sy fokus op die regte het Mischke minder op die poësie gekonsentreer, maar sy morele betrokkenheid by ons samelewing voortgesit.  

 

 

 

(‘n Effens korter weergawe van die stuk het ook in Beeld  23/4 verskyn. – JLM)

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Johann Lodewyk Marais. Huldeblyk aan Carl Mischke.”

  1. Johan, is daardie medestudent Annesu aan wie Carl se bundel opgedra is die digter Annesu de Vos?

  2. Francis :

    In SENSAL (die Sentrum vir SA Letterkundenavorsing) se 1984-jaaroorsig van die Suid-Afrikaanse letterkunde is daar verslag gedoen oor die resepsie van die volgende (21) digbundels wat in daardie jaar gepubliseer is:

    Hennie Aucamp: Die blou uur
    Breyten Breytenbach: Buffalo Bill
    Eveleen Castelyn: Menslikerwys gesproke
    Rika Cilliers: Mammoet
    Sheila Cussons: Membraan
    Jan de Bruyn: Vuurtent in die sneeu
    Johann de Lange: Waterwoestyn
    Philip de Vos: O Togga, ’n Gogga
    Clinton V. du Plessis: Geloofsbelydenis van ’n kluisenaar
    Hans du Plessis: Gewete van glas
    Daniel Hugo: Breekware vir die rewolusie
    Antjie Krog: Eerste gedigte
    Carl Mischke: Interne weerstand
    Petra Müller: Liedere van land en see
    Petra Müller en Charles Fryer (samestellers): Visier
    Johan Myburg: Vlugskrif
    Ina Rousseau: Versamelde gedigte 1954-1984
    Wilma Stockenström: Monsterverse
    Daleen Struwig: Neoplasma
    Petra van Blerk: Skerf
    Pieter van der Lugt: Vuurwerke

    Elkeen van hierdie bundels het ’n unieke uitgee- en resepsiegeskiedenis.

    Die samevatting van die resepsie van Carl Mischke se debuutbundel in hierdie bron lees soos volg:

    T.T. Cloete verwys na hierdie debuutbundel as poësie van bestudeerde modernisme, effekte en nugterheid, met ’n soort strakheid en saaklikheid wat kil aandoen. Daar is verbandlose spronge tussen verse of strofes en ’n neiging tot die triviale (dikwels reeds deur die titels aangedui). Hoewel dit soms na temas uit ’n koerant of naweektydskrif lyk, meen hy tog dat die verse in sekere gevalle, hoe nugter ook al, poësie word (Die Volksblad, 2.3.85). Die swak gedefinieerde inhoud hinder ook Johann de Lange, maar tog vind hy blyke van belowende digterskap, en verse wat selde ‘ekkerig’ is: telkens word konkrete beelde en situasies gekies om innerlike konflikte en gewaarwordinge uit te beeld (Die Vaderland, 4.3.85). André le Roux meen die digter weet hoe om sy woorde te kies en poësie met stewige struktuur en vorm te maak (Die Burger, 16.5.85). Mischke se verstegniese vaardigheid (veral betreffende rym en herhaling) word ook deur Reneé Marais onderstreep (Ensovoort, Des. 1984).

    (Bron: SA Literature /Literatuur 1984. Pretoria: HAUM-Literêr)

    ’n Terugkyk na hierdie bron en inskrywing oor Carl Mischke se debuutbundel bied ’n blik op die stand van die Afrikaanse literêre veld in die middel 1980’s.

  3. Johann Lodewyk Marais :

    Ja, Daniel.

  •