Jy hou alles
Hou my hand
sodat ek die warm bruin grond
kan voel
waaruit die grasieuse grasse groei,
die byt van die maroela, die geknarste druif se smaak,
die sensuele skugterheid van die perske, die grenadella se suggestie.
Hou my hand
sodat ek kan hoor
hoe die wind rusplek soek in die geelhout boom,
hoe water sag systap om klippe in die fontein,
kan hoor hoe die tortel stilweg die waarheid uiteensit,
hoe ‘n klein kind ‘n windjie opbring in die middel van sy ete.
Hou my hand
sodat ek kan verstaan
waarom ek nie verstaan nie,
hoe jy alles hou, alles
binne jou,
en waarom jy dit alles
met my wil deel.
© De Waal Venter, 2013.