7e gedagtes oor “Alfred Schaffer. Vir Mandela

  1. Die man

    Dit is die lang man, die lang man,
    in die groen jersey,
    almal wou hê hy moes op water loop
    maar hy het eerder met ou tannies,
    boeretannies, met baie bagasie,
    en gemoedelike name soos Betsie
    en ongemaklike vanne soos Verwoerd
    tee gedrink,
    hartlik geglimlag,
    … opreg, met sy oë,
    met ‘n hart vol onthou,
    maar sonder haat.

    Dit is die lang man, die lang man,
    in die groen jersey,
    almal wou hê hy moes die brode vermeerder
    maar hy het eerder
    die letsels van die verlede
    met sy twee hande toegemaak
    die bokshandskoene
    weggepak,
    die gebalde vuis oopgemaak,
    ‘n rojale groet,
    sonder verwyt.

    Dit is die lang man, die lang man
    in die groen jersey
    almal wou hê hy moes uit die water wyn maak
    maar hy het hierdie land,
    soos ‘n kind, op sy rug gedra,
    die man wat ‘n eiland was,
    sonder gesig,
    met die splinters van Sharpville,
    die briefskerwe van Ruth First,
    die bittere, jarelange verlange,
    na kind, na vrou,
    weggesluit agter tralies,
    alles, iewers in sy gees vasgekerf,
    weggepak.

    Dit is die lang man, die lang man,
    in die groen jersey, nommer ses,
    wat nou die land,
    versigtig, soos ‘n rugbybal,
    vir ons elkeen wil aangee.

    Die lang man, wat hier eens net ‘n eiland was,
    het ‘n rots, ‘n universele baken, geword.

    (c) Clinton V. du Plessis (2013)

Lewer kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *