Moet nooit in hawens na die liefde vir onskuld soek nie.
Ag, ook nie in neonbeligte strate nie,
of in dronkmanstegies nie,
jou dwaas, jou dwaas,
om te soek na die liefde vir onskuld.
In tye van traangas en gifgas,
tye van fosforbomvlamme,
moenie na die liefde vir onskuld soek
in helder daglig
of teen sonsopkoms in verlate strate
vol pamflette nie.
Die kil winde wat deur fabriekspersele snerp,
dít was ons verlossing.
Die koue winde wat rook en roetmis wegwaai
was ons verlossing.
By ʼn straatsjebien
sluk ek twee bottels hardehout af,
besope onderonsies was my verlossing.
Jy waarsku teen die soeke na die liefde vir onskuld?
Liefde vir onskuld? Voer dít vir die honde.
Tog, voor en na ons mooi gedagtes
is ʼn suiwerder tyd.
Alhoewel moeg en lendelam
het ons krag gehad om op te staan.
Vandag is ook só ʼn dag.
Na vandag is daar môre,
dis net dat môre anders sal lyk.
Dis dáár waar die liefde vir onskuld is. Wat ʼn vreugde!
Is dít dan nie
ons wese nie?
Toe jy op ons geskree het
om nie te soek na die liefde vir onskuld
in hawens
of op straat nie,
die liefde vir onskuld was steeds daar.
Is dit dan nie maar
ons aard nie?
Na Clare You en Richard Silberg se vertaling “Song of Innocence” uit: Ko Un, The Three Way Tavern: Selected Poems (2006, University of California Press), pp. 16-17.