‘n Man in Johannesburg
Die seun het kunsklas bygewoon
by die Tegniese Kollege
in Eloffstraat
naby die stasie.
Hy het geworstel om die nat reuk
van klei
in ‘n gesig te omvorm;
die oë was onsiende,
hulle kon nie die datum
op die kalender lees nie: 1954.
Die jong man
het deur die mense
op die besige sypaadjie
van Eloffstraat gevleg;
middagete-tyd, netnou terug kantoor toe –
‘n grypdief pluk ‘n vrou se handsak
uit haar hande,
die jong man bestorm hom,
die grypdief ruk ‘n mes uit,
iemand stuit die jong man voor die bors:
“hy gaan jou doodsteek. Los hom!”
Die grypdief laat die handsak val
en hardloop weg;
die vrou huil dankbare trane,
voetgangers stroom by hulle verby,
die insident vergete;
Die Vaderland
van 2 Mei 1971 sal nie hieroor verslag doen nie.
Die man ry in Eloffstraat af,
hou versigtig
die onvoorspelbare versnellings
en rigtingveranderings dop
van taxi-bussies,
wat blakerend om mekaar maal.
Hy luister na sy GPS
wat hom sê wanneer om te draai
op pad
na Home Affairs.
Hy vee oor sy smartphone
om te kyk hoe laat dit is:
11:35 9 September 2013.
Sy passasiers gesels gedemp
in Setswana;
‘n familielid het hulle huis ingeneem,
hulle woon in ‘n mokoko in die agterplaas.
Smouse verkoop lemoene en sigarette
by hulle tydelike stalletjies
op die sypaadjies.
Almal drentel,
daar is geen haas nie.
Die stad is stadig
besig om nuwe klere aan te trek –
die skoene is leer, die jongste mode,
die broek nog steeds die ou een,
die hemp taamlik verbleik,
die pet windmakering skeef.
In ‘n sak is ‘n nuwe ID;
dit sê
die draer van hierdie dokument is Suid-Afrikaans.
Dankie Louis. Jy stel dit baie goed: “die strate jare lank geruik”.
Ja, Jakkie, ouens met die jare agter die blad, soos ek en jy, het nogal heelwat beleef!
DeWaal jy verbaas my
met jou raak sê
van ervarings van jou belewens
vanaf toe tot nou.
De Waal ~ Dis regtig net iemand wat die strate jare lank geruik het wie se beelde van die Goudstad mekaar so treffend kan opvolg. Dis so helder, so tipies, so opreg.