Om af te tree op Bela-Bela
Vandat Warmbad Bela-Bela geword het woon
die arm swart- en witmense deurmekaar aan die
kant van die dorp, sê my ma.
Deesdae is die bedelaar voor Van Heerden se apteek wit
en al die bankbestuurders swart.
Vandat Warmbad Bela-Bela geword het reik die ryk mense
se grasperke tot teen die teerpad.
Daar is nie meer sypaadjies nie, sê my pa. Outomatiese
sproeiers spuit ’n mens nat as jy oor die gras loop.
Dit help nie om te kla nie, wie sal luister?
Hierdie lente blom die koraalbome uitspattig rooi in die strate.
Hulle het eers ’n ander naam gehad, maar ’n mens
mag dit nie meer gebruik nie, sê my ma.
Die tannie onder in die straat se gastehuis is elke naweek
stampvol swart executives. Gelukkig is hulle Bloubulle.
Die kerk bewerk en verkoop hulle eie vleis en
pannekoek om geld in te samel, sê my pa.
Kyk, wys hy, my vingers is voos vleis gesny.
Die mense van die stad kom koop naweke.
Ons kan nie voorbly nie.
Eintlik bly hulle baie lekker op Warmbad.
Die dorp is veilig en die potholes
is nie so groot nie, sê my ma. Vir gaste wys hulle graag
Klein Kariba, sê my pa. Daar is ʼn kleurlingkelner
wat vir jou die tafelgebed in Afrikaans doen.
Moes jy nou regtig in Brabant kom bly om in Bela-Bela te gaan kuier en vervolgens die dorpie namens alle ander onder oë te sien, Solet? JA, ek dink dis wat afstand doen! Die koraaltjie ;-)van hierdie gedig is egter “my vingers is voos vleis gesny”. Sulke poësiereëls het die potensiaal om opgeneem te word in die spreektaal. Ek hoor al my swaer op Makwassie!
Trots om te mag se jy is ons sus!!!! en dat ons weet van Bela-Bela se mooi koraalbome en ook weet hoe aktief die kerk is…aangename herinneringe van ons kuier saam met jul en jul dierbare afgetredenes. Jy is ‘n STER!
Dit is beeldskoonmooi en prentjieduidelik. Jou trant tref die hart. Baie baie geluk! Trots op jou!
BAIE GELUK – ‘N besonderse prestasie – maak maar weer so…
Baie geluk, Solet – ‘n waardige wenner!
Baie geluk, Solet!
Uitstekend!