EsiKhaleni, Hole-in-the-wall
mooi sing Ntombi
in die dubbelvolmaanmaand
waar die seeman met die vinhande
die meisie tussen kleihuise
en oor prilgroen heuwels sien loop
Ntombi sing
waar die golfbreker boegvis ploegvis stamp
en stamp tot die sandsteen maagdelik
breek tot die skalie in gitblou skywe
uiteenkraak
Ntombi sing
waar die meisie tussen strandnguni’s
oor die sandsoom water toe hardloop
opkyk die halfgod en sy stormvis
déúr die landmuur sien kom
sing Ntombi sing uit die water
sing waar die wit hingste skuimbek
runnik die hoewe oor klippe
dreun die water deur die sagte landplooi
van die Mpakovallei
stroomroof die aarde skreeu die tata
sy klere skeur
Ntombokuqala sing
die seemense sing
die landmense ween
die plek donder
die plek klink
esiKhaleni sê die plekmense
die plek van klank
Dankie Nini!
Ek sal hierdie gedig se weerklank onthou.
Baie dankie vir die vriendelike kommentaar, Mellet!
Lieflike verwoording van die msitiek van ‘n Afrikavrou in ‘n vreemde ver plek. Een van my gunstelinge.
Mooi gedig. Met hierdie gedigte oor plekke leer ek meer van ons land. Soveel vreugdes, soveel hartseer.