Kaap die Goeie Hoop: 1976
Bedags geborge in die Esperanto
van jou kleure, geure en tale
Dwaal ek snags jou stiltes ín:
Hoor bronskloppers
teen herehuisdeure galm,
Statige stad- en kerkhorlosies
oor gekeide pleine metronomies tik,
Hoe die see aan jou some kan sis.
Tussen Buren, Oranje, Leerdam, Katzenellenbogen en Nassau
Skreeu mý erfenis gefolterd uit:
Ek is ‘n Afrikaan!
As nagwagte se konkavure
Voor die Burgerwaghuis hul swart skadu’s
Grotesk laat poppedans
En Langa en Nyanga
-son en maan-
Uitreik na jou keisteenhart
om húlle erfenis op te vra,
Klap knuppels en sambokke
teen koppe en lywe
Klap skote teen sink
teen steen teen vleis
(‘n Trojaanse Perd teen voetvolk?)
Selfs die klippe teen jou berg
begin te kriewel.
Dans Poppie dans…
die minuet met geparfumeerde pruike
op die Kat,
Dan voetpad langs
na Lady Anne se bad
met ‘n slaaf wat liggies tydhou
in die Gat.
Dit is letterkundig beeldskoon geskryf!Lieflike bydrae!
Ek is bly jy is weer hier om verder gekanoniseer te word. Jou gedig bring ‘n nuwe kyk op die minder mooi gedeeltes van ons geskiedenis. En die sug ‘ek is ‘n Afrikaan’ behoort die benaming van elke Afrikaanssprekende te wees. Wyle Neville Alexander, die taalkundige – het dit lankal gesê.