Plekgedig 22: Andries Bezuidenhout. Johannesburg, Witwaterwyser
Johannesburg, Witwaterwyser
(Vir Stockenström en Koichab se water)
Kareemikstok gesny, spoor tussen mynhoop en koppie gevat
onder bloekomgeraamte en kragdraadgedaante
gesoek na fossielbronne wat borrel
uit die Witwatersrand se stollingsteenlaaie.
Van Grootvlei tot Randfontein, Braamfontein tot City Deep
Tweefontein tot Hammerschlag
verken waar ondergrondse mere sou uitmond
koel soos die poele tussen die Huab-draaie.
By Geldenhuys Estates en Elandsfontein verby
Denver Hostel en Doornfontein, vleie nagespeur
blou soos wolke bo Hommoequa-pieke
en lou soos Sapkamma se blaarbosteeprut.
Stilgehou by East Rand Proprietary Mines
of as stroomversnelling sommer ERPM.
Is die Danka se donderweerwoede hier te vinde
of spoeg in die brakbek van Koegrabie-put?
By Zevenfontein en Wemmer Barracks Hostel
Rietfontein, die Mai Mai Bazaar, Zandfontein en Simmer & Jack
Turffontein en Knights, Sterkfontein en New Comet Mine
oor sproei verneem, blink soos klippe by Kriedouw.
Die Transvaal Scottish Regiment-spoke
asook Wespark en die Fisher-Spendiff-grafte uitgevra
oor Sannagas-versnellings se somerreën gedreun
of die bibber in ʼn Teiqua-oggend se dou.
By Sophiatown en Western Native Township vertoef.
Is water nog bekombaar by Wilgespruit
en Van Rhyn Deep Mine, of by Confidence Reef
suiwer soos sout in die Koegeroo se gang?
Iewers moet klamheid wees, al is dit skraps
soos vog in die Koonap en Haukaap se lope
of die belofte in Johannesburg Waterworks Estate
and Exploration Company Ltd se naam.
By Vogelstruisfontein en Bantjes Gold Mine
Johannesburg Dynamite en Modderfontein
en die Nil Desperandum Co-operative Quartz Company gesoek
na iets soos Keimoes-syferput en die silwer vloei van Koeakamka.
Langs Tweelopiespruit en Brugspruit verby
en by New Kleinfontein en Aurora myne
oor sap so geel soos Kamtradrif-boombas
of swart soos kabbels in die Dogghakamma uitgevra.
Deur Klipspruit Lokasie, Pimville en Springs
en koers geneem na Muldersdrift.
Van druppels soos die Gannakouriep-dorings s’n gehoor
vir gorrel, lip en tong, om oerwoorde te vorm.
Antieke mondings in soveel name, maar proe na arseen, sianied
MacArthur-Forrest, gekgoud en ysterpiriet.
Water steeds volop, sonder twyfel
vol suur wat skaglangs boontoe sypel.
Hou van hierdie een. Baie. Dit het my oggend gemaak! Dankie, Anonieme Digter.
‘n Stad wat swaar dra aan geskiedenis en geologie. Skitterend uitgebeeld!
Desmond, kom jy en ek gaan ‘n weddenskap aan oor wie hierdie blerrie goeie anonieme digter is. Die verloorder moet vir jou dogtertjie ‘n nuwe fopspeen koop; die wenner koop twee. Bygesê, byna al hierdie plekgedigte is skitterend. Niemand beny die beoordelaars nie.
Eitsa, vier nuwe fopspene! Want my dogtertjie is beslis die enigste een wat gefop gaan word. Ek is doodseker die digter is… wel, sy naam is beslis NIE Buitebluff nie. Louis, is daar ‘n geldprys vir die leser wat die meeste digters korrek kan identifiseer? DIT sal mos nou ‘n gawe kompetisie wees. Ek bedoel, wedstryd.
Mens mag natuurlik teen die verkeerde boom blaf, of jou blaf kan geroep word (soos dit die dronkie oorgekom het toe hy laatnag voor sy eie straatdeur staan en tjank)… maar is dit werklik moontlik vir die digter om sy of haar digterlike duimafdrukke agter die burka van gewaande anonimiteit te verdoesel? Die digter is, paradoksaal, die één persoon van wie die vryheid weggeneem is om as ‘n eie surrogaat of na-aping op straat te staan en tjank, by wyse van spreke. Die wakkergeraasde suigeling gaan jou stem herken!
Die interessanter wedewaarstryd sou wees om digters te vra om almal onder die dekmantel van anonimiteit oor dieselfde plek te skryf, en dan te kyk of hulle daarmee kan wegkom.
wel, as jy nou ‘n baie ou gevestigde juweel is op die baan (soos meneer buiteblaf), sal almal jou sekerlik herken aan die swaai van die gholfstok en die stappie van reël-matige putjie na putjie, mits jy self een is wat gereeld die bane besoek en oor jare heen die kampioene dopgehou het… daar is natuurlik altyd daardie vertwyfeling oor die burka/masker van anonimiteit: is dit zorro of die skim?
ook weer waar
Dis is ook g’n wonder mens loop nooit ‘n “La tombe du poète inconnu” raak as jy in ‘n vreemde stad monumente besigtig nie. Die digter se doppie klink onmiskenbaar.
Almal het klaar gewen.