Freud se sofa
Waar id is, sal ego wees.
Op hierdie sofa,
ikonies uitgestal in ‘n museum
met totems daarneffens,
het Sigmund Freud die onbewuste
glo ontdek:
om te praat, te droom, grappe te vertel,
deur raaisels veral,
verraai ons glo iets
van ons ware aard.
Om jou tong uit te sny,
jou stil te maak,
iets wat die digter vrees?
Ek lê my neer
op Papa Freud
se beroemde sofa,
virtueel beskikbaar,
die reisende sofa as u wil.
Maar eers die sofa met sy donker kleure,
opgepofte kussings,
tapytbedekking of kelim.
Hier is beswaardes lêgemaak,
aangehoor: ont-vang, ont-knoop,
ont-boesem ten aanhore van die analis,
streng en dogmaties,
soekend na die verdringde redes
wars van religie.
Waak teen identifikasie met die onbewuste
sou sy kroonprins waarsku:
in ‘n soele droom
presies in drie afdelings verdeel
waai die wind twee verse weg,
en later soekend
in die liasseerkabinet van my komputer
is die verse ónopspoorbaar.
In onrus vertrek ek;
nog dieper in die droom in
stap ‘n vrouedigter en haar gewese man
se nou-reeds-oorlede vrou
saam-saam die trappe af
met my as toeskouer.
Nog verder in die droom
– as ek reg onthou –
verskyn Sheila Cussons,
daardie amper-heilige
met ‘n fotokopie
waarop skeef afgedruk staan:
“Freud se sofa”.
© Joan hambidge / 2013

