wanneer verse begin droom
–vir Wilhelm Knobel
vir jou word vroeg
reeds ’n verskalwer gebrandmerk,
boerseun uit Bethlehem.
jou moeder kon jou nooit soog nie,
haar borste was droë spruite. jy treur
oor jou verlore biesmelk, steel soms
die laaste knertsie uit die melkery
waar jy en jou broers knerskoud
koeie moet melk.
jou vader se woede is ’n toegerankte
brandpad wat nooit oopgeskraap word nie.
elke woord is ’n pendoring en jou brein
begin skarrel soos die vlakhase en tarentale
wat hy stelselmatig afmaai. hy stroop jou
koringlande tot slegs
vergeelde stoppels oorbly.
wanneer jy later agter gordyne verdwyn,
knetter sy afwesigheid deur jou. kort-kort
smelt jou bedrading, begin jou brein
bouvallig word,
die voetpaadjies toegeskroei.
daardie oggend voor jy
onder jou laaste laken verdwyn
word jy ingebrand tot vers
word jy geslyp tot bloedsteen
begin jy droom
Dankie, Deon. Dis ‘n groot kompliment.
Baie dankie, Gisela, dis baie mooi en so waar van sy lewe. Gelukkig het ons sy gedigte en veral sy eie wonderlike elegiese gedigte as permanente herinnering en waardeur hy “lewend” bly. Hy het mos self aan my suster en swaer geskryf, na hulle 6-jarige dogtertjie, “KLEIN ESTIE” voor hulle oë dodelik beseer is deur ‘n verbygaande motor: “Soos julle weet is dit vir my baie moeilik om die dood te verwerk. Dis eers as ek die skoonheid daarin kan vind dat ek dit kan aanvaar,” En saam met die brief stuur hy sy aangrypende gedig, “by die dood van ‘n kind.” wat so treffend deur Hendrik Hofmeyr getoonset is as deel van sy 5-lied Elegiese siklus: “En skielik is dit aand.”