ONGEREPTE AARDE
Gee my ’n landskap vol hindernisse
met bergspitse wat na die hemel reik
en waar wilde riviere en spruite
in die vergete voetheuwels ontspring.
’n Plek
wat geen mens kan tem nie en waar paaie
deur die driwwe en al teen die rante
en ver bergplase mettertyd wegraak
en tamboekie vinnig die oorhand kry,
waar die geelhoutbome geheimsinnig
bo die diepgroen ouhoutruigte uitsteek
en stem gee aan die piet-my-vrou se roep.
En steil hellings
met ’n wildspad wat deur ’n bamboesbos
op, op vorder tot op die gelykte
waar ’n pan skitterend in die son lê
en sewejaartjies onder die blou lug
om die water in die oggendson roer.
Dáár sal eenhorings uit die niet uit kom
en in die heilige ongereptheid
hulle koppe laat sak en begin drink.
© JLM / 2014
Ek verstaan dat Amichai grootliks as ‘n “toeganklike” digter gesien word. Die vertalings hier demonstreer dit. Maar dit beteken natuurlik nie dat die gedigte alledaags en gewoon is nie. Inteendeel. Leesdie gedig oor hoe twee mense mekaar in ‘n appel ontmoet. Hulle sit en luister hoe die appel rondom hulle geskil word. Daar is ‘n ryk reeks metafore en beelde in die gedig wat dit baie genietlik maak om te lees. Die Afrikaans waarin die gedigte vertaal is, is onopgesmuk, maar het ‘n varsheid en tinteling wat die beste poësie tipeer. Ek is bly Afrikaanse lesers kan nou ook kennis maak met hierdie interessante digter.