wicus luwes. dis:/ek{teer}

leonardodavinci3_crop

Cat Stevens reken dat die eerste snit die diepste sny. Stevens verwys na die liefde of eerste liefde. Dit is dus ‘n denkbeeldige snit in ‘n denkbeeldige hart, maar die gevoel wat dit veroorsaak kan die verliefde met net soveel trauma los as ‘n werklike snit.

Die manier hoe kinders redeneer is so direk of konkreet en ek is mal daaroor om te luister hoe hul oor abstakte idees redeneer. Ek het ‘n gesprek gevolg waar kinders hul toekomstige beroepe bespreek. Een kind redeneer toe dat sy graag ‘n veearts wil word, want sy hou vreeslik baie van diere. Die antwoord wat my aan die dink gesit het, kom toe van een van haar maats:
“‘n Veearts kan eintlik nie van diere hou nie, want hulle moet die diere gedurig seermaak. Hulle gee die diere inspuitings en sny aan hulle. Hulle moet eintlik diere haat”
Ek het daaraan gedink dat die stelling ‘n mate van waarheid bevat, maar dat dit die groter prentjie miskyk: Daar is wel somtyds pyn betrokke, maar dit is ‘for the greater good’. Party prosesse benodig
pyn om die groter pyn te verlig.

Volgens die kinderlike redenasie moet veeartse dus diere haat.
Dokters moet mense haat.
Digters moet woorde haat.
Hierdie haat moet natuurlik ten bate van die groter liefde gekanaliseer word.
Die groter prent het onderafdelings.

Ek het tydens een van my staptoere op die Outeniqua-staproete ‘n mediese student ontmoet. Die student, Marli Nel as ek reg onthou, het ‘n gedig geskryf met die titel ‘dis ek teer’. As deel van haar studies moes sy, soos enige mediese student, die anatomie van die mens ondersoek. Die studie het ‘n praktiese komponent en behels die oopsny van kadawers. Haar gedig het my al dikwels laat wonder hoe mediese dokters die trauma wat hul deurgaan verwerk. Die kadawer voel geen pyn as daar aan hom of haar gesny word nie, want hul is reeds dood, maar die voornemende dokters begin sekerlik dink aan waar die kadawer vandaan kom gedurende die dissektering. Ek het gelees oor een span studente wat tekens van vriesbrand in so ‘n kadawer gekry het. Ander dele van die liggaam het weer brandmerke gehad. Die studente het dus bepaal dat hul heel waarskynlik aan ‘n hawelose man werk wat die wintermaande in die koue aan die een kant verkluim het en aan die ander kant te naby aan die vuur gesit het. Hul het ook die kadawer ‘n naam gegee. (Enige plaasjapie kan vir jou sê dat jy nooit ‘n dier wat jy gaan slag ‘n naam moet gee nie. Dis moeiliker om Betsie die koei of Saartjie die hen te slag, maar dit daar gelaat.) Ek het ook my nig, Katrina, oor haar dissekteer-ervaring uitgevra. Hulle het ook die kadawer ‘n naam gegee en te oordeel aan die tatoeërmerke was die kadawers waaraan hul gewerk het meestal van tronke afkomstig.

 

onder die steriele doek van jou brein

onder die steriele doek van jou brein deursoek jy my
soos geslagte van oë en medisinaal bewerkte hande.
biopsies formalien tot histologie voort/
soos tande in jou mond
jou liefde maak metastatis
en daardie liefde ruik soos dood

– deur Gilbert Gibson uit ‘Vry-‘

Die span waarin sy gewerk het, het begin sny aan die borskas. Elke vlak van die mens word bestudeer. Dis somtyds moeiliker om die strukture en vlakke te sien as wat dit in die studiemateriaal aangedui word. Die dele waaraan nie gewerk word nie, word toegegooi. Tyd het verloop en op ‘n dag het haar vrees waar geword: hul moes die gesig ook ondersoek. Party van Katrina se klasmaats het meer tyd in die badkamer deurgebring toe die daar aan die gesig gewerk moes word. Net soos die naam van die kadawer, gee die gesig ook menslike eienskappe aan die lyk wat voor jou lê. Dissekteer word dis ek teer.

leonardodavinci1Prent heel bo en bo kom uit Leonardo da Vinci se sketsboek

‘n Ander Dokter wat my meer inligting oor dissektering gegee het, was Dr Mbuso van ons maatskappy se gesondheidsafdeling. Vir hom was die voet weer ‘n interessante deel om te dissekteer. Daar is vreeslik baie lae en bene in die voet en ‘n snit wat te diep gaan, sal veroorsaak dat jy iets miskyk.

“There is nothing to writing. All you do is sit down at a typewriter and bleed.”
– Ernest Hemingway

Ek lees van tyd tot tyd oor DJ Opperman se laboratorium wat ‘n paar dekades gelede gefunksioneer het. Ek wonder sommer of die digters in hul ‘scrubs’ ook die fynere dele van ‘n gedig ondersoek het. As die digters van die laboratorium hul sintuie moes inspan sou daar miskien ook n reuk in die lug moes wees. Ek kan myself voorstel hoe die digters die poëtiese voet moes ondersoek

Een persoon wat beide skalpel en die pen of potlood al moes gebruik ‘for the greater good’ is Gilbert Gibson /ɪnˈtəːnɪst/. Ek het die voorreg gehad om ‘n gesprek oor sy nuutste bundel, Vry-, tydens die Vrystaatse Kunstefees by te woon. Dit is altyd ‘n voorreg om ‘n gedig uit die digter se eie mond te hoor. Dit is ‘n voorreg om die digter se digkuns te dissekteer en op soveel juwele af te kom. Gibson se gedigte het verskillende lae wat jy maklik kan miskyk as jy verkeerd sny. Die gebruik van leestekens en simbole maak die gedigte by tye kripties, maar noop die leser ook om dieper te kyk. (Op ‘n ligter noot kan ‘n mens seker dankbaar wees dat die gedigte getik is, want dokters is nie bekend vir hul mooi handskrif nie. Ek sien sommer al hoe die dienste van ‘n apteker ingeroep moes word om die uitgewer te help.) Verder sien ek in my geestesoog hoe gedigte op voorskrifboekies geskryf word met mediese verteenwoordigers se penne.

 

steel.[‘n trekkerbattery om:

steel.[‘n trekkerbattery om: ‘n ou motor aan()die gang te kry
..breker.die.wag.hond[en -e]..wag & begin+te.blaf .
en.ry[duiseligheid]seker../[of-]bang
+deur.die’ogiesd raad h ei-ning…..oupa{komuitgehardloopuit..:
die.’huis.’uit die slaap}op.’n.drafstap.
./hy.lyk.jonger>&gesond.//..ditlyksoos’nrooi.
steel.[‘n trekkerbattery om:

– deur Gilbert Gibson uit ‘Vry-‘

 

Tydens die gesprek met Gibson het ek gehou van die ‘dis ek teer’ dele wat ek as leek raakgesien het (of wou raaksien). Ek het aan my eie oupa se potlode gedink wat ek in ‘n klein houertjie bewaar toe hy van sy pa se penne en potlode gepraat het. Ek wonder wat ‘n mens daardie soeke na menslikheid in ‘n kliniese wêreld noem. Daar moet sekerlik ‘n naam daarvoor wees. Die anatomie van ‘n vers of die anatomie van ‘n gedig /gesig laat ‘n blywende indruk op die wat na daarna soek. Ek bewonder medici vir die verwerking van trauma wat hul daagliks moet deurgaan. Dit is wel ander mense se trauma, maar dit moet tog iewers ‘n impak hê. Skielik wonder ek sommer of die digkuns dalk een uitlaatklep vir Gibson kan wees.

o-DOCTOR-LOSES-PATIENT-570Foto: ‘n Skermskoot uit ‘n video wat ‘n Dokter buite die Noodgevalle afdeling van ‘n hospitaal wys. Die dokter het op daardie stadium pas ‘n jong pasiënt verloor.

 

In sy bundel kry die woord Vry, ‘n eie naam of identiteit. Vry-staat word die staat van vryheid en is nie bloot ‘n plek nie. Vry-staat staan beide los en vas.

 

ons het half in die middel

ons het half in die middel van die vry-
staat gebly my hare in
hoofsaak altyd kort gesny die sandklipmure
was van meer wind as weer
gegroef die meeste dae was dit berchtesgaden partymaal
stalag luft. die pad dorp toe besaai met waarskuwings teen
draers van rykdom sonder werk plesier sonder gewete
wetenskap sonder siel kennis sonder karakter politiek sonder beginsel
handel sonder moraliteit aanbidding sonder opoffering
die een was soos die ander die ouer boere
nou al dood. nie een van hulle het geweet watter hond ek het nie
totdat die airedale ‘n skaap vang, en daardie geheimenis ook ontwrig.
dit is moontlik dat ouers hul teen my gewaarsku het, dink ek,
en kam my hare terug.

– deur Gilbert Gibson uit ‘Vry-‘

Dit laat my opnuut besin oor die betekenisse van voorvoegsels wat soos ‘n stukkie lap oor die gedig gegooi is. Die opbreek en saamvoeg van woorde. Die amputeer en aanheg van woorde en die gevoel wat daardie woorde jou gee. Die kennis wat ons kry uit ‘n gedig wat dalk dood kan wees vir die een persoon en lewendig vir die ander. Die afsny van ‘n woord ‘for the greater good’. Ek dink weer aan hoe digters woorde haat omdat hul miskien so lief daarvoor is. Boeke kan ‘n mens volgens tabelle wys wanneer kinders abstrakte konsepte kan begin verstaan en hoe jy dit aan hul kan verduidelik. Min van daardie boeke wys jou egter met hoeveel sukses kinders abstrakte konsepte vir volwassenes kan verduidelik.

disseksie
diskoers
dissekteer
dis ek teer

 

Dankie:
Baie dankie vir Katrina du Toit en Dr Mbuso Mabuza vir die inligting en lekker gesels.

Bronne:
1. Gibson G, Vry-, Human & Rossouw, Kaapstad, 2015
2. Internet. http://www.huffingtonpost.ca/2015/03/19/doctor-photo-grieving-dead-patient_n_6905290.html

Prente:
1. Internet. http://www.huffingtonpost.ca/2015/03/19/doctor-photo-grieving-dead-patient_n_6905290.html
2. Internet. https://www.royalcollection.org.uk/collection/919013/recto-the-muscles-of-the-shoulder-and-arm-verso-the-muscles-of-the-shoulder-and
3. Internet. https://www.royalcollection.org.uk/collection/919015/recto-the-muscles-of-the-upper-spine-verso-the-muscles-of-the-upper-spine

Bookmark and Share

4 Kommentare op “wicus luwes. dis:/ek{teer}”

  1. Leon Retief :

    Uitstekend Wicus. Soos die toeval dit wil he het ek onlangs afgekom op ‘n paar gedigte wat my laat dink het dat ek hulle dalk vir ‘n min of meer soortgelyke inskrywing kan gebruik. Dalk kom ek so ver om dit te doen, dalk nie.

  2. Wicus Luwes :

    Dankie, Leon. Ek sien uit om jou inskrywing te lees! Jou perspektief sal eerstehands wees en dit sal die onderwerp sommer baie interessant maak.

  3. Maria Snyman :

    Mal oor “DIS:/EK{TEER}” Wicus! As kunsstudent lank gelede het ons vir ‘n semester klas gehad by ‘n biologiedosent (wat die soorte duikies op die liggaam so mooi geklassifiseer en beskryf het al het ek intussen die details vergeet) en is die module afgesluit met ‘n “life drawing” sessie met ‘n kadawer (torso) en dit het my altyd bygebly. Hemingway se beskrywing van die skryfproses is ook nuut vir my.

  4. engemi ferreira :

    Dankie Wicus Luwes. Ek hou van hoe fyn jy kyk, dink en dan sny.

    Dis hartomriemend dat mens deesdae die voorreg het om saam met die skrywer daarvan, in ‘n korte blog jou eie diep en wye her-innerings-pad kan loop.

    Daarom ook dankie aan Mareliese en Louis (en wie ook al betrokke is) vir die vers-indaba ruimte waarin dit kan geskied

  •