Jacobus van der Riet. Die Kitsch-gedig?

ab1

 

   Dis die blond,
   dis die blou:
   dis die veld,
   dis die lug;
en ‘n voël draai bowe in eensame vlug –
     dis al.

  Dis ‘n balling gekom
  oor die oseaan,
  dis ‘n graf in die gras,
  dis ‘n vallende traan –
    dis al.

– Jan F.E. Cilliers

Die begrip Kitsch word mos gewoonlik met die populêre grafiese kuns en binnenshuise versiering geassosieer, veral dekoratiewe snuisterye. Die term word gebruik om ‘n oordeel te fel oor die“bedenklike smaak van die sg. “laer” klasse. Kitsch kan dui op goedkoop, sentimenteel, plastiek, uiters kleurvol, fraai, oordadig e.d.m. ‘n Mens dink aan die skilderye van Tretsjikof of die baaiende nimfe van J.H. Lynch (Tanya, Tara, Tina et al), keramiekware wat koninklike gebeure herdenk, porseleinkatte met lang nekke, tuinkabouters, kunsblomme van plastiek, keramiekkaktusse en ganse in vlug, Elvis memorabilia, Stille Oseaan-tonele met palmbome en sakkende sonne in skel kleure, religieuse standbeeltjies, gekleurde liggies, Lava lampe, Flamenco poppe, Liberace se badkamer, tier- en luiperdvelpatrone, langhaar matte, growwe saagmasjiengekerfde houtmeubels, nagemaakte primitiewe maskers, bronshorlosies met wilde diere, en ander derglike dinge. Kitsch word geken aan oordaad en die kitssentiment wat dit moet ontlok, bv. die herrinering aan of droom van ‘n eksotiese bestemming, die oppervlakkige skoonheid wat dit uitbeeld, die traan wat dit ontlok, of die moederlike instink wat dit moet aktiveer.

Uiteraard word Kitsch dan ook dikwels eers later as sodanig herken, in die immeropeenvolgende wisseling van smaak of mode. Waaroor mense vandag opgewonde gil, sal hulle dalk later met afgryse gril: “Hoe kon ons gedink het dis mooi?”

Dit is ook deesdae, by nabetragting, moontlik om ‘n ironiese, humoristiese waardering vir Kitsch te ontwikkel, en dit te versamel of liefdevol uit te stal, juis omdat dit Kitsch is – dit word dan bewonder juis omdat dit so goedkoop en smaakloos is. Jy moet dan raai of die ry ganse teen my muur of die Tretsjikof-afdruk in my voorpotaal my werklike smaak verteenwoordig en of dit bloot ‘n ironiese tang-in-die-kies stelling is. Daar is natuurlik ook die element van nostalgie by betrokke, die heimweë na vroeëre minder gekompliseerde dekades van relatiewe onskuld.

ab5

In ‘n lieflike boek, getiteld Kitsch Deluxe, gee die skrywer daarvan, Lesley Gillilan, dan talle fotografiese voorbeelde van sulke Kitsch-versamelings, telkens in die milieu van die sitkamer of kombuis of slaapkamer. Die meeste tablo’s bestaan bloot uit ‘n bonte mengelmoes van items wat geensins by mekaar pas nie, en tog is daar voorbeelde van die harmonieuse kombinasie van ongetwyfelde Kitsch-items wat ‘n aangename geheelindruk laat. Dit wil gedoen wees, ja, maar dit lyk my dis wel moontlik.

Boonop moet ek bely dat sekere Kitsch-objekte as sodanig vir my mooi kan wees. Ek sou met opregtheid kon plek maak vir ‘n ry gansies in vlug, indien nou nie vir ‘n brons muurhorlosie met ‘n aanstormende olifant-met-verhewe-slurp nie. Die smaak vir die skone moet tog iewers begin, en as dit vir party mense begin by die geborduurde gebed
of die porseleinkat met die lang skewe nek, so what? As kind het ek van die Radetsky-mars gehou, maar nou sal ek die radio se volume heelwat laer stel by die aanhoor daarvan.

Nou is die vraag of daar ook Kitsch letterkunde en digkuns is? Kan ‘n mens die begrip effe uitbrei om voorsieninge te maak vir die Kitsch-gedig? Moet die digter hom afvra of hy sopas ‘n Kitsch-gedig geskryf het? En indien wel, is dit in orde so, of moet die innerlike sensor sy plig kom doen en die skêr inlê?

ab3

‘n Voorbeeld van skryfwerk wat dié tergende vraag ‘n onheilspellende dimensie gee, is die lirieke van Bernie Taupin wat hy vir die begrafnis van Prinses Diana geskryf het en wat deur Elton John in die katedraal met klavier en sang voorgedra is. Hy het, soos ons sal onthou, die woorde van sy lied Candle in the Wind, wat op Marilyn Monroe betrekking had, inderhaas aangepas om nou na die pasgestorwe prinses te verwys. Die woorde het die populêre sentiment rondom die prinses se oorlye akkuraat saamgevat en deeglik versuikerd aangebied. Die opname daarvan se verkope het alle rekords tot in ewigheid der ewigheid oortref.

Goodbye England’s rose;
may you ever grow in our hearts.
You were the grace that placed itself
where lives were torn apart.
You called out to our country,
and you whispered to those in pain.
Now you belong to heaven,
and the stars spell out your name.

And it seems to me you lived your life
like a candle in the wind:
never fading with the sunset
when the rain set in.
And your footsteps will always fall here,
among England’s greenest hills;
your candle’s burned out long before
your legend ever will.

Loveliness we’ve lost;
these empty days without your smile.
This torch we’ll always carry
for our nation’s golden child.
And even though we try,
the truth brings us to tears;
all our words cannot express
the joy you brought us through the years.

Goodbye England’s rose,
from a country lost without your soul,
who’ll miss the wings of your compassion
more than you’ll ever know.

ab2

Om Elton John te laat klavierspeel en sing in ‘n Katedraal en dit tydens ‘n begrafnis is al klaar ietwat gewaagd, vanweë die onwaarskynlike jukstaposisies (klavier – katedraal, ballade – koorsang, sekulêr – gewyd, ens.) en dan is daar die woorde wat naas die soetsappigheid daarvan ook noodwendig die oorspronklike ietwat omstrede aangesprokene oproep. Monroe was ‘n talentvolle aktrise, op haar manier, maar nou nie juis skugter soos die sprokiesprinses nie. En tog was die lied waarin hul lotgevalle versmelt het vir die meegevoerde miljoene al wat hulle van die diens sal onthou, en reg in die populêre kol. Taupin en John se poging was nie gemik op die literêre tydskrif nie, en ons word mos gewaarsku om nie lirieke met gedigte te verwar nie en volgens gedigte se maatstawwe te beoordeel nie. Nietemin dien hul poging wel om te bewys dat ‘n woordproduk wel aan sekere kenmerke van Kitsch kan voldoen: uiters populêr, die sentimentele kitsgevoel wat dit opwek, onvanpas, twyfelagtige smaak, oordaad, onwaar.

ab6

So waarvoor moet die digter oppas en watter soort gedig is moontlik veral vatbaar vir Kitsch-status, selfs al sal gewone gedigte nooit massa-populariteit geniet nie? Ons mag miskien dink dis bloot die rympies in beterskap- en leedwesekaartjies wat tersake is, maar ons kan tog verder kyk. Gedigte en veral sonnette met doelbewus treffende slotkoeplette oor godsdienstige temas, beweeg op dun ys, veral as dit oor Kersfees of die Kruisgebeure handel, vanweë die gevaar van goedkoop sentiment en doelbewuste tranetrekkery; so ook gedigte aan die moeder- of vaderfiguur gerig, of aan die verraderlike verlore geliefde, of gedigte oor ander tragiese gebeure, soos vliegrampe, volksmoorde en verwoestende watervloede. Geleentheids- of opdraggedigte is eweneens aan gevaar blootgestel, omdat die inhoud hom nie innerlik aan die skrywer opdring nie, maar van buite gegee word. Die poging om aan die opdrag gehoor te gee, kan dan maklik in kunsmatigheid ontaard wanneer daar te hard probeer word. Gedigte oor bekende of bewonderenswaardige persone wat in die hitte van die oomblik onstaan, kan ewe maklik in die dryfsand van sentiment verval. Veral inspirerende retoriese gedigte waarin die Self se oneindige moontlikhede om uit te styg bo die alledaagse en die lewe se uitdagings te oorwin, aangeprys en aangemoedig word, is gewoonlik suiwer Kitsch. Lg. retories-inspirerende genre is besonder gewild, nie waar nie, en wie weet, dalk dien dit ook ‘n doel? Selfs die mees afgetrokke stem wat een of ander saak koudbloedig klinies in afgemete taal beskryf, soos ons dikwels in Afrikaanse gedigte kry, kan tot ‘n blote truuk verval en ook die ontredderde eindmoment van algehele ontgogeling kan ‘n Kitsch-ervaring wees, want dié dame kom in vele gedaantes. Al voorwaarde is dat iets oppervlakkig mooi, maar nie waar nie, moet wees, en daar maak Frau Kitsch haar verskyning. Sy is beide berese en belese, en daag dus op waar ‘n mens haar nie verwag nie. En sy is nie so maklik herkenbaar in haar woordgestaltes as in haar grafiese of dekoratiewe gestaltes nie. ‘n Kitsch-skildery is gewoonlik mos onmiddellik as sodanig herkenbaar, maar die Kitsch-gedig lyk natuurlik uiterlik nes enige ander gedig, en jy moet tot aan die einde lees om te sien wat gaan vir wat.

Nou wil ek nie Kitsch-gedigte in die Afrikaanse corpus van gedigte probeer identifiseer nie, want te veel vingers wys moontlik terug in die verkeerde rigting, na eie boesem. Dalk kan diegene wat op veiliger voet verkeer, dit wel waag. En nee, ek dink nie Jan F Cilliers se Dis al is Kitsch nie (hoewel dit nogal melodramaties is), omdat hy oënskynlik wel diep geraak is deur die Oorlog en die gevolge daarvan. Hy het nie, sover ek kan oordeel, ‘n kunsmatige sentiment in homself ontwikkel bloot om ‘n gedig te produseer nie. Indien hy sou voortgaan en oor elke ander denkbare menslike ramp met ewe veel patos begin skryf het, sou ek wel my bedenkinge gehad. As ek Auschwitz of Treblinka besoek om inspirasie vir gedigte te vind, beweeg ek op uiters gevaarlike terrein. Of as ek die biografieë van heiliges of onheiliges lees op soek na materiaal, of my in by-voorbaat-gedoemde verhoudinge begewe wat moontlik genoeg ellende sal oplewer om ‘n bundel te baar, kan ek maar weet dat ek tien teen een Kitsch sal produseer. Maar dan weer, dalk sal iemand se kunswaardering juis by daardie Kitsch-gedig van my begin.

ab4

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Jacobus van der Riet. Die Kitsch-gedig?”

  1. Joan Hambidge :

    Bepaald om oor na te dink. Heimwee sonder deelteken. Van die Duits Heimweh.

  •