Dagblad blues
.
Nog ‘n gesodomiseerde seuntjie |
‘n tiener met vermisde satanshande |
weer die verkragte kleurlingmeisie langs haar eie ingewande |
bejaarde egpare se stukkende gesigte
ketelkoord gewikkel om gewrigte |
deur die plaasvloer se konklusie loop bloederige
toi-toi spore vir land redistribusie |
agter die sportsheld met sy netelige posisie | jaag in ‘n vangwa – verbete – die polisie
met die uitlander, oor slaggatpad gesleep, vir dood
tot by die kinder porno-ring ontbloot |
langs dik politici al smakkend; agter die soustrein – sak-ke-pak-kend |
waar dit ontspoor langs rooi berette | tussen verstopte skooltoilette |
bons die rubberkoeëls en biddende studente by mekaar verby | om rakelings
die vryval van die groeikoers te vermy…
.
‘n oorsig van die naweek se vermaak
sal jy op bladsy sestien van ons bylaag kry
.
© Jannie Malan / 2016