Carina Stander. Verwilder
verwilder
ek weet nie meer wanneer
ek jou verwilder het nie
op ‘n dag het ek jou
(wat van kindsbeen met my was
soos murg of stem of skaduwee)
die berge in verjaag
dalk het ek my geskaam vir jou dierlikheid
jou primitiewe uitruik van mismerke en spore
hoe jy ander se wonde gedurig wou lek
te veel te geil te harig te oordadig uitbundig ná die reën
het jy skande en skade oor my gebring:
om jou ontwil is ek name genoem
uitgevloek as domnaïef of doof,
doodgewoon oorgesien by okkasies
hierom het ek my rug op jou gekeer
en gaan woon in ‘n geteerde straat;
ek het geleer om my woorde te tel
en nagwandelings te vrees
(buitendien wou ek tuis wees
wanneer die kinders wakker word)
dis aande soos vanaand
as die vleipaddas se kele saad in rietjies skud
dat ek vlietend na jou verlang;
by die agterhek los ek water
en die oorskietvleis van weekdiere
in die hoop dat jy een nanag sal terugkeer
uit ‘n ongekarteerde plek
© Carina Stander / 2016