Gekraakte pot
in memoriam Herman van Wyk
wat as die pot misluk
of van die hitte kraak deur gebruik
bars stukkend val
sal die pottebakker dalk nuwe klei
op die skyf gooi ’n nuwe vorm
met sy vingers uitforseer
geglasuur simmetries volmaak gevuur?
nee, dit is die gekraakte pot wat lewe saai
sover hy gedra word die stukkende een
wat weet van uitdeel en gee die onvolmaakte
wat water uitstort mors geil groente gee
wat weet die snotkop-predikantjie eintlik
van hande vol bulte krukke wat vorentoe beur
van voete gebreek sodat jy kon loop
van hoe een voet die trap opsukkel en dan die ander
sy eie parabel leer hom die les
jy is die mislukte kruik seer en gekraak
die lekkende pot wat water in oorvloed uitstort
die gekraakte pot wat geil groei mors
die gekraakte pot wat gebreek lê by die fontein
die gebuigde wiel wat stukkend geval het in die put
© Hein Viljoen / 2016