Die flâneur
(in memoriam Walter Benjamin)
in ‘n venster op die Place de la Sorbonne
Berliner Kindheit rond negentien-honderd
oorkant tafels met bier-gelag in die son
(jare later die gesleep oor die berg na Portbou)
ons slenter die stowwerige arkades deur
op jou spoor:
Hotel Chopin by die wasmuseum,
‘n bootbed met Cleopatra aan die roer
verby geure uit Restaurant Véfour
(het jy tersluiks hier na binne getuur?) –
langs die Seine ‘n goudplaat op ‘n muur
met reëls uit Baudelaire se “crepuscule”:
“dit wriemel in die modderige stad se moer”…
nege-en-dertig, pas uit die kamp, waarom het jy toe nie gevlug?
dwing opsluit na jou tafel in die Bibliothèque Nationale terug
ons bly boheems deur die stad flaneer
(op die breinlob net vaag
1940 en die nag van ewige wederkeer)
Parys, Julie 2013
© Helize van Vuuren / 2016