Wicus Luwes. Ali vs Makhathini

Muhammed-Ali

Op pad na Louisville via Roete 66

Die eerste keer dat ek van Tap Tap Makhathini gehoor het, was toe my neef ons familie vertel het van die toerisme-roete wat hy een Saterdag saam met sy familie aangepak het. Ons eie Roete 66 (R66 om presies te wees) is ‘n toerisme-roete en sluit ‘n hele paar besienswaardighede in Zoeloeland in. Een van die plekke op die roete, is Tap Tap Makhathini se drankwinkel naby Eshowe. Makhathini is een van Suid-Afrika se bokslegendes. Die linkshandige middelgewig-bokser het eers op 29-jarige ouderdom professioneel geword en het nie ‘n lang professionele boksloopbaan gehad nie, maar was baie suksesvol in die kort tydjie wat hy professioneel geboks het.

Elijah Tap Tap Makhathini het Jan Kies en Charlie Weir geklop om sy plek as Suid-Afrikaanse legende te bevestig. Hy het ook die manier gehad om ‘n groot gevolg saam met hom na die bokskryt te bring in aanloop tot die geveg. Volgens Makhathini was dit oorsee ‘n mode-neiging om ‘n gevolg na die kryt saam te bring, maar nie in Suid-Afrika nie. Dit het hom herinner aan Shaka wat sy krygers in ‘n oorlog sou aanvoer. Hy is trots oor sy Zoeloe-erfenis.

Ek het al twee keer in alle erns Eshowe toe probeer gaan om ‘n stukkie van Roete 66 te besigtig. Beide kere moes ek egter van plan verander as gevolg van omstandighede. Hierdie pas afgelope Saterdag was een van die kere. Die nuus van Muhammad Ali se dood het koerant-opskrifte gemaak en ek het gewonder of Tap Tap ook gehoor het van die afsterwe van Ali. Makhathini en Ali is albei in 1942 gebore. Ali het wel op ‘n vroeër ouderdom deur die toue as professionele bokser geklim. Makhathini se oorwinning oor Jan Kies het in 1976 geskiedenis gemaak deur hom die nasionale middelgewig-kampioen te maak. Tot op daardie stadium is bokstitels in Suid-Afrika op grond van ras ingedeel. ‘n Brug word gebou deur die geveg tussen Makhathini en Kies. Ali staan aan die ander kant van die wêreld op om brûe tussen die anti-oorlog sentiment en die swart bewustheids-groepe van die 1960’s in Amerika te bou. Hy weier om in Viëtnam te gaan veg.

Daar is vier belangrike houe in boks: ‘Uppercut’, Jab’, ‘Hook’ en ‘Cross’

Uppercut

Onder deur vuiste se verdediging
Vertikale impak se dowwe krag na bo
Teen neus of ken of ribbekas

Jab

Kortste pad is reguit vorentoe
Vuis uitgestrek, arm horisontaal
Die kryt is ongelyk as jy lê

boxing-7-638

Sport is bekend as brugbouer tussen gemeenskappe. (Somtyds herstel jy die brûe wat jyself verbrand het.) Dit was Ali, ‘n Moslem, se wens dat alle gelowe by sy roudiens in Louisville, Kentucky betrokke moes wees. Hy en sy familie het 10 jaar lank aan die begrafnis beplan, aangesien sy tyd kortgeknip sou word deur Parkinsons-siekte. Ek kan nie help om aan die tien jaar as tien rondtes in ‘n bokskryt te dink nie.

Daar is ‘n paar taktieke wat ‘n bokser kan volg. Een van die taktieke waarvoor Ali bekend was, staan as ‘rope-a-dope’ bekend. Die bokser wat die taktiek volg maak asof hy teen die toue is met die gevolg dat sy opponent homself moeg maak met oneffektiewe houe. Die opponent boks as’t ware homself moeg. Alhoewel Ali ‘n formidabele opponent was, het die siekte Ali stadig maar seker uitgeput.

2016 is nie ‘n goeie jaar vir legendariese sterre nie. David Bowie het aan die begin van die jaar gesterf. Prince het ook onlangs gesterf. Mohammad Ali was weliswaar een van boks se grootste sterre. Die name en spreukwoorde wat ons van Mohammad Ali sal onthou, het hyself in ons gedagtes geplant deur dit herhaaldelik uit te basuin: ‘The Greatest’, ‘Fly like a butterfly, sting like a bee’. Dit sit nie in enige bokser se pype om drie keer ‘n wêreldtitel te verower nie. Dit is egter nie een van hierdie bekende spreuke wat op sy grafsteen geskryf gaan word nie. Ali het gevra vir ‘n spreuk deur Martin Luther King op sy grafsteen.

Ek wonder waaroor ek met Tap Tap Makhathini gaan gesels wanneer ek hom ontmoet. Sy 62 oorwinnings sou seker ‘n begin wees. Die bekende name waarteen hy geveg het, sou seker ‘n ander onderwerp wees. Ek wonder wat hy as sy grootste oorwinning sien? In die huidige tyd van breek en afbreek, wonder ek hoe hy die rol van boks as brugbouer sien. Om die besoek aan sy drankwinkel af te sluit sal ek seker vra vir ‘n foto saam met Tap Tap. Miskien sal ons albei ons vuiste vir die kamera bult en miskien sal ons ‘n vuis dramaties laat rus teen die ander se ken.

Hook / Hakhou

Uitklop teen die slaap of ken
Dominante voet voor terwyl heupe draai
Die mooiste hou in boks

Cross / Kruishou

Aanval op die agtervoet
Reaksie na die aksie
Die man teen die toue se vuiste is gevaarlik

Tap-Tap-Makhathini-floors-Jan-Kies

Bronne:

Internet: http://www.slideshare.net/nataliiashulgan/boxing-45935534

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •