René Bohnen. Soogvisse in die Outeniqua
SOOGVISSE IN DIE OUTENIQUA
Jou sms blits deur die lug
soos ʼn groen gedig:
ʼn kalfie is gebore
in ons kobalt baai — kom
sit op die balkon by my
bokant die baardfyn
lugwortels van ʼn wildevy
Ja! teks ek terug, ja
dan drink ons malvatee en jasmyn
uit paisley porselein en vryf koel
los pêrels tussen wysvinger en duim,
praat oor ou vierpoot en voordiere
besin later oor glaukus uit die water
tik teen sonsak klik-klik
ryme vir die wilde grys dolfyne,
sonnette vir die suidkappers en ʼn diepsee
gedig vir die bultrug en bloue
wat roep
uit die matrys van ons bloedlyne
Ons skryf mekaar vas
aan die odes van die oseane
en ons gee die timpane, gee
aambeelde en die slakkehuisies van klank
aan die aandlug, aan die noem-noem
en die stil middernagwulke
want
ʼn waterboek is sy
mysteci, eubalaena;
ʼn biblioteek in die see,
sê die oues die fluisteraars en vertellers
wat geraamtes weer asem gee –
sy is ʼn drywende argief, sy is ons groepsgeheue
Laat my dan kuier in eden
wanneer die walvis lewe
sien in die waters van die lente
waar sy warmbloedig ʼn lyfballade is
Singend deur seisoene
roep sy
die ou herinneringe
roep sy
die skimme van ons beginne
Ons sing in soutwater agterna ; sy is ons ma
© René Bohnen Oktober 2013
Rene, dis ‘n pragtige gedig.
“waar sy warmbloedig ‘n lyfballade is”. Sereen. Jy “skryf” die hele Eden “vas”.
Dankie Charl-Pierre!
Dankie Marie, my walvisbedwelming duur al ‘n leeftyd.
Iedere beeld vind resonans in my binneste, waar ek die betowering van walvisse en dolfyne bewaar.
Ek waardeer dit, Alice
Ek kry sommer hoendervleis!
Absoluut betowerend!