Melanie Grobler. Max Richter Droom 3
Max Richter Droom 3
.
Die glansende heelal dryf verby
en hemelliggame in konstellasies gloei
daar is donker sterre aan die rante
uitgebrande planete wankel om die roos
van die heelal.
Hier in die middel van sy lewe skep hy
die ewigheidsdroom; in die oggendlumier
rafel die salwende kosmiese melodië
in trae strome die toekoms in.
soos ‘n komeet val hy na die aarde
die lig van die vrou se sonne roep hom
die droefnis van haar drome
so diep, so roerloos stil
‘n ekwatoriale bergpoel in ‘n ander land.
Soms vul hy die musiek met warm water
en laat haar in die stoom sit; dis so ’n dag
dat fragmente vanuit die skadu
na die helder lig gebring word.
* [https://www.youtube.com/watch?v=AwpWZVG5SsQ] © Melanie Grobler/ 2017