Ons mistige siele
Omdat my mooi niggie
die taal wat
sy praat
verloor het
trek sy knippies
uit die diepte
van haar lang hare
wat sy op haar tong plaas.
Wat doen sy op die dek
van hierdie donker skip?
Sy luister
na ou grammofoonplate
en wat doen ons, die skeepsvaarders
met ons mistige
siele en ons verweerde name.
Ons praat oor die verspilde bloed
van ons seuns en dogters.
Ons leef in hierdie beeld
en weet dis nie die wortels van die boom nie
maar die wortels naaste
aan ons, wat ons bleek siele koester.
Wat soek ons, op hierdie verrotte
soutdeurdrenkte planke van bestaan
reisend van een wit stippellyn na die ander?
© Melanie Grobler / Sept. 2018