Die Here is nie meer my herder nie
(vir Lucia, Psalm 23)
Die Here is nie meer my herder nie
want by jou kan niks ontbreek nie
jy lê my neer in groenweivelde
jou asem, jou kus is waters van rus
jy verkwik my siel en lei my in die spore
van jou geregtigheid net om my ontwil
al gaan ek deur die dal van doodskaduwee
pleeg ek steeds onheil met jou
want jou nek en jou skouers vertroos my
jou borste berei die tafel voor my aangesig
my hoof is vet met olie
my beker loop oor
net goedheid en guns sal my volg
al die nagte van my lewe
en ek sal in jou tempel kom
tot in lengte van dae
*
my hart is ‘n fladderende duif
jy het my hart aangeraak
my hart is ’n fladderende duif
misplaas, onvanpas
paniekbevange teen die ruit
en die ruit is my borskas, jy weet?
toe ek streel oor jou voorkop en jou slape
het ek sagkens geloop met my vingers
oor elke letsel en ledemaat
eers met duimpie en toe met sy maat
en toe met langeraad
terstond het die duif genestel
grys en gespikkel, maar bronstig
en toe was dit te laat
jou voorkop, jou mond, jou gelaat
is ’n tempel, die tempel van Salomo
nee, die Taj Mahal, ’n bedevaartsoord
vir wie nie meer bid
ons moet die duif laat vlieg
hierdie hart van my moet vlerke kry
hoe doen ons dit?
.
©Willie van der Merwe / 2019