Stof en ster, deur Pieter Fourie. Naledi, 2019; 978-1-928426-70-7
Resensent: Amanda Lourens
ʼn Mens begin al byna té gewoond raak aan uitstekende poësie deur Pieter Fourie, sowel as aan artistiek keurig versorgde digbundels uit Naledi se stal. Stof en ster, die derde bundel uit Fourie se pen nadat Afrikaans se voorste dramaturg se digterlike wal in 2017 met Knapsekêrels gebreek het en in 2018 met Bidsnoer opgevolg is, sluit tematies en tegnies naatloos by sy voorgangers aan, sonder dat daar enige dalende lyn in terme van gehalte te bespeur is.
Fourie se poëtiese styl en aanslag is teen dié tyd kenmerkend, en die bundel bevat ongetitelde verse wat die leser se middelklas- verstedelikte gemaksone deur die eerlikheid en gestrooptheid daarvan uitdaag. Hierdie digter skroom nie om deur te dring tot in die diepste kern van die menslike psige met sy primordiale drifte nie, maar nêrens word dit met grootdoenerigheid of vertoon aangebied nie – trouens, Fourie is die meester van die nugter en eenvoudige, maar altyd gelade en meerlagige gedig. Soos in die vorige bundels lei die volkse taalgebruik tot besondere klankeffekte, maar skep dit ook die eiesoortige aardse en lokaal realistiese tekstuur van Fourie se poësie. (Fourie self bestempel sy werk as “folk”-realisme, en verskaf voor in die bundel ’n aanhaling van David Barnett wat hierdie kunsrigting soos volg omskryf: “Folk realism is the new genre as literary work, reminding us that under our veneer of sophistication we are of the soil that still breathes and remembers the old ways onder the layers of tarmac and concrete that we hide it beneath.”)
Die bundel het sy oorsprong in die lang gedig “gehuggie” in Bidsnoer (geïnspireer deur Dylan Thomas se bekende Under Milk Wood), volgens ʼn nota van die digter voor in die nuwe bundel.
Die lieflike kunswerk op die voorblad deur Maletta Fourie is ʼn soort impressionistiese beeld van ʼn landskap, sonder té veel realisme of detail. Eerder skep dit die indruk van ʼn vloeibaarheid of ’n vormingsproses, wat sterk aansluit by die “swerfsand” binne ’n groter kosmiese opset, soos wat in die eerste gedig aan die orde gestel word:
die oerknal sper
sy heelal af
mens plant insek dier
leef hier stil deurdag
verken hul al
kortom
swerfsand
strawasie
vervlietend
onder
ster en son:
Op ʼn manier kan die titel “Stof en ster” geïnterpreteer word as ʼn deel-geheelverhouding, veral wanneer die kosmiese situering van die bundel in gedagte gehou word. Stof is ’n relatief klein vorm van materie, en ook die samestelling van die twee naamwoorde (“sterstof”) aktiveer die moontlikheid van stof as die boustof van sterre, oftewel aansienlik groter konglomerate van materie, alhoewel hulle op hul beurt weer dele van die veel meer komplekse sterrestelsels is. En wat in die bundel voorgehou word, is ook niks ander nie as ʼn deel-geheelverhouding: Die bundel gaan naamlik oor ʼn landelike gemeenskap, maar word saamgestel uit bepaalde karakters en hulle individuele wel en wee.
Terselfdertyd stel die insetgedig die aardse lewe, hetsy menslik of dierlik, as ’n maar vervlietende aspek binne die groter opset van “ster en son”, en die dubbelpunt aan die einde van die vers suggereer dat die tydelike lewe, met sy vervloeiings (“swerfsand”) en moeilikhede (“strawasie”) die boustof is van die verse wat gaan volg.
Fourie verken die spektrum van lewe binne ’n gemeenskap op meesterlike wyse, en ontbloot met humor en deernis die tragiek van individuele menselewens, maar skroom ook nie om die skadukant van die gemeenskap aan die kaak te stel nie.
Daar is die netjiese klein gedig oor die koeksisterbakkende Tant Breggie, wat kos as substituut vir seksuele onvervuldheid gebruik:
vir tant breggie koesisterkoningin
(nie sleg met kaas- en pannekoek)
ook toornaar in die melktertkring
was daar nie tyd om man te soek
maar nooit gebed, het sy gestoel
om pik-sluk-pik by basaar te woel
.
’n Verhaal van onbegrip vir en verwerping van ’n individu met ’n eie traumatiese geskiedenis is die tema van die fyn onderspeelde vertelling oor Stil Sarel:
stil sarel kan net ná middernag
sluip-sluip deur die strate stap
bedags sal die dorp hom stenig
tot hul verraaierbloed sien spat
net hy en drieka uit sy kinderjare
wis waarom hy moes joiner word
met volmaan kan hy dofweg sien
haar malvas bloei gewonde hande
in bruin roeskanne van paraffien
nooit ooit sal een van hul vergeet:
ma’s, dogters ontklee soos hoere
die kakies dreig verkraggereed
twee kinders magteloos afgepers
verklap oornagplek van die boere
kry natwang koers na eie huis
klim in sy bed met seer berou
hier gekoester nooit verguis
in arms van mina, sy barolongvrou
Hoe die kat ook in kerklike kringe in die donker geknyp word, word met verkwiklike woordspel vertel:
orrelis raak opgewonde
die nuwe proponent
is nie so ongeskonde
sy energie pols penorent
as sy ná kerkkoor-uitvoering
agterbly vir nog ’n oefening
proponent die blaasbalk pomp
weet sy hy’s warmbloedig jonk
In die bodorp, weer, is daar “koos hoë-kringe”se sleutelpartytjies:
in die bodorp bou
koos hoë-kringe
kleinkind van jan blink
met vreemde dinge
’n yslike glaskasarm verrys
ware garden and home-paradys
in spogwit garderobe en skoenateljee
200 hangers aan relings van chroom
50 skoenskedes se leerkondoom
die swembad is olimpiese standaard
die biljartkamer ’n manne-hemelvaart
sagte porno word trompop blou
deftige bene nie meer kuisgevou
die motorsleutels in ’n pluiskeilhoed
in die ligrooi skrik-vir-niks-dameskroeg
almal geblinddoek niemand kan kroek
ploeg katoolsvingers in hul lotingsoek
die getrekte sleutel kom met vrou inkluis
(as bonus die kamersleutel van haar huis)
in sjampanjekaskades word almal omgeruil
vir ’n kroonwild-orgasme op kakebeenskuil
Tog is al hierdie aardse besigwees uiteindelik aan die sterflikheid onderworpe, soos die deernisvolle maar steeds nugter tweede laaste vers in die bundel van vertel:
oupa praat nou sag aldag al temer
die aandster kom so net ná skemer
tyd vir lang witjurk en slaapmussie
’n laaste lopie na die parlement
vroetel rond in medisynekissie
aha! ’n hoesstropie en pipperment
vannag kom ’n uil op daknok roep
weet oupa worstel met die kroep
kis staan blinkvernis op die solder reg
vir leeftydstapper van die smalle weg
daar kom hoe-hoeeee die engelkoor
ouma trek dig die kantgordyntjie
’n vlugsoutjie ’n proppie rooi jerepiko
speel met respek op trapserfyntjie
sing pianissimo:
“uit diep van donker nagte
roep ek, die here hoor …”
In die slotgedig keer Fourie terug na die kosmiese opset wat in die eerste vers opgeroep is, en verklaar dat alhoewel “die verband / tussen /ster / en korreltjie sand”duister is, dit “helder” is dat alle oënskynlik onverwante komponente in die heelal in ’n groter spel aan mekaar verbonde is:
[…]
helder:
onversoen afgesper
’n soekmekaar
triljoen ná triljoen
in duin in hemelruim
vir heelalspel
albaster en ghoen
Stof en ster is in alle opsigte ’n merkwaardige bundel deur ’n digter wat hom in ’n kort tyd as ’n belangrike rolspeler binne die Afrikaanse poësiesisteem gevestig het.