inskrywing
dié dagnagboek
en daarom ‘n reisjoernaal …
kyk, hierdie is die soom van jou lewe
losgetorring al langs die plooi
van oorlewe
ter wille van vérder te wil bewe
totdat die teef jou inhaal
en jou doderok verskeur…
so-ewe moes jy jou juis inkdink in die sewe beswerings
omdat klippe haar nie van die werf gaan verwilder
en jy beter pad moet vat na diepsee se einder
kyk, hierdie is die naat van my lewe
al is dit ook ‘n gewaande seestraat
as verbeelde streep gelaat
in die nat van bewussyn
kyk stip, Antonio Machado lê as verstekeling
begrawe in die lies van hierdie grens
wat sy oorsteekstreep was na ballingskap
se diékant daaikant daai kant diékant …
digby die see van lig wat nie
die dood se land is nie
omdat die gedig in sy toegevoude hand ‘n klippie
versteen soos die dromer se skip
beskerm teen die gekerm van onthouspoel en sand
en wanneer die laaste uitvaart se dag aanbreek
en die boot wat nooit weer om hoef te draai
te water gaan om die sloot eindstreep toe te trek
sal jy my met min bagasie aan boord vind
half kaal en vry soos die see se kind
vertaal nou die verbeende lyk en vou dit oop
in jou droombesoekboek se some ingebind
om daardie skeepsjoernaal in bewereis te stippel
terwyl hordes halfgeklede toeriste blind
in die sonlig hul dooie lewens oorlewe
skaars ‘n klipgooi ver van hierdie werf
se diékant daaikant skrywe …
asof geen sout of water ooit sal wéét
van ‘n verskeepde nagjoernaal
versand in die steengroef van ballingskap nie …
en maak of hulle tot plooiens toe lag en versigtig suip
terwyl daar gewag word vir die maan wit lap
– wié wéét, dood se halfverskeurde onderrok? –
om te wys dis weer veilig vir drenkelinge
om te swem in die see van vergeet
Collioure, 7 Augustus 2019
[© Breyten Breytenbach.]