Liewe Marlise,
Jy sal onthou dat ek jou al ‘n geruime tydjie gelede belowe (of gedreig) het ek wil ‘n gerfsel verse (is hulle nog ‘verse’?) vir jou stuur vir plasing. Enersyds om vir my tot hier te bring waar ek kan probeer om mits dese ‘n rumoerige en deurmekaar en dalk ook onnodig sombere jaar toe te maak. Andersyds – en dit is vir my die rigtende oorweging – om op hierdie wyse vir jou ‘n baie groot dankie te sê vir wat jy en julle (ek dink hier spesifiek ook aan Louis) oor so ‘n lang skof met oorgawe en soveel kundigheid vir die poësie gedoen het met die ruimteskepping van ‘Versindaba’ . Ek is seker mense het hulle na hierdie ruimte gewend om uiteenlopende redes. Wat my betref, ek het my altyd vry gevoel hier om te kan kommunikeer en soms ‘nuwe’ werke uit te probeer, te kyk hoe hulle hul in groter geselskap gedra, wetende dat dit miskien nie die finale beslag is nie. (Kry enige fragment ooit ‘n finale ‘lê’? Daar is altyd die, ” ‘k wou nog sê …”) Jy was die ideale bemiddelaar. Ek weet die standaarde wat jy neergelê het, dus die baniere wat jy staangemaak het, sal so behoue bly en die nuwe meesteresse sal goed kyk na die werf en, in vryheid, ook nuwe vlae hys.
Hierdie voorlaaste bydrae wat ek vir jou stuur is lywig en, indien jy dit sou aanvaar vir eventuele plasing, ‘n spasievraat. Soos mens aanstap word dit moeiliker om jou draai te kry! Dit bestaan uit verse wat ek in Grevilleas met die passede Digterstuinfees voorgelees het, sedertdien reeds weer aan die muteer. So ek wil, al kan ek nie by al die mense uitkom nie, hiermee dankie sê vir die organiseerders en deelnemers en lesers en luisteraars daar, en baie spesiaal vir die klankmeesters Skalla Joubert en Laurinda Hofmeyer. Saam met hulle (omgeef deur hulle aanvoeling) – soos ook met dié van oorle’ Ollie Viljoen – is ek gereed (eintlik lus) om sonder huiwering my naam any time gat te maak: dis die doen wat so meevoerend is.
Na Wellington was daar ook Gent. Ander geleentheid, ander rumoer, maar ook weer met sommige van die liewe (en slem!) mense wat reeds in Wellington op lankmoedige wyses aanwesig was. Met die weggaan daar het ek baie grootbek vir Yves TSjoen belowe ek gaan probeer reageer op die verrigtinge by wyse van waardering. Indien dit nie te veel is nie en as ek nou nie hiermee die spaarbussie breek nie wil ek graag binnekort daardie skryfsels en skrifsels bymekaar maak en – belowe!- as laaste bydrae onder jou vlag en leiding vir jou stuur.
Mag hierdie seisoen en die komende jaar ons almal genadig wees.
Hartlike groete
Buiteblaf Hoesê
R E I S E I N D E
F R A G M E N T E
“en bewéging is éwewig
voortdurend verloor/herontdek
in ‘n draaiende deelword van sang
se stilklank ontvang”
‘n mal hart
kan nie gemaal
of aan die naak gestel
word in woorde nie
.
« maruku kakoro de kurashimasho »
1. die (o)opmaak
(Uiteindelik was alles maar net ‘n geval van skadu en lig)
dames en here en ander menere,
majietas en wyfies en stroopwafels,
woordstapelaars, aarsdeskundiges
en des moerse windverkopers, kwanselaars,
kanselverlooptes, ongedoopte omdop jongmeidjies,
baarddromers, verlangekwekers, messtekers,
lesergemeesterde
begeesterde
mense –
vergun my om julle voor te stel aan
Babbelbek Breërivier
veral nou daar geen water meer is
om oor die klippe te kabbel nie –
kyk hy klop op sy bors op soek na ‘n hart
en steel julle beursies en bespot julle smart
in bitter rymelary
om nie te huil nie
om nie te treur nie
want woorde is vry
gevy en sonder betekenis :
kyk, hy is aan elke onheilige skade dadig –
wees die fokken boerklong tog genadig
2. Voëls
.
Voëls en verdere vreemde verbeeldingsvlugte. Die verhaal
(om iets weer te herwin, al is dit ook slegs die eie positiewe)
is die vertelling van verbygaan. Vertelling kan ‘n vertaling wees
as verheldering van die nag se verdwaalspelonk.
Vir vele van my vriende is dit ook die vervelling van ‘n wese
Wat vereelt geraak het onder die verdriet van vervreemding.
My vriende vra om vermaking.
So ‘n vreemde versoek.
Is dit nie vermétel nie ?
Hulle verwag om verlos te word van verlange na die verlede.
Hulle wil vergeet van verval.
Hulle bly verbind tot die vennootskap van veiligheid :
Dat alles wat vuil en verweer en futiel en oulandsvlag is mag verbrand.
Hulle versoek voorwaar verder die versekering van verliefdheid
Indien dan nie versoening nie.
Kan jy jou nou méér voorstel ?
Die verhaler voel vere vir hierdie visie van vervulling en verheerliking.
Waarom sou hy die opvlammende vagevuur van vrees verdiskonteer ?
Vir hom sou dit « die verraad van die verdrinkte vis » beteken.
Die volksverraaier kan vir seker nie die verontskuldiging
Van verantwoordbaarheid vermy of vergestalt nie.
Verontwaardiging verwoord immers die vergeefse verwesenliking
Van vleeslike visioene.
Maar geen voël vlieg vir ewig
En die vaandel is ‘n valse verwagting van wind
Vir wie ?
Vir wat ?
Om te verhoed dat vergistering onvermydelik verlyf
In verwording, verbystering, verwildering, verlies
En al die vae versenskimme wat met ‘n gevry aanvang
Vannag wanneer die vark versuip in die vat
Om onder die mat gevee te word ?
Is vertrek ‘n opsie ?
Om jou verder te verloor in die vervloeking van onversoenbaarheid
Met die versnelling van vergeet, my veeltalige meesterleser … ?
Is dit dan nou nie té verdomp verregaande nie !
3. my lakens ruik …
my lakens ruik na olyfolie en liefde
na ou-ou drome wat soet herleef –
my bed is ‘n skip waarin ek vaar
tot daar waar die maan ‘n klipbaken rig
teen die verdriet van ruimte
waar die maan glansend o-lyf
om gepars en gepuur die oorgang
soet te maak –
soet te maak
vir die vergaan in jou dye se innighede
sodat ek omswagtel in barenslinne
weer mag paar met die droom van herlewing
gebalsem mag word met die soet-proe van liefdes
olie aan die lippe
4. rou lied
en tog is jy nie myne
en hierdie klaagsang is nie myne
en wat verby is soos wat voorlê is nie myne nie
nee jy was nooit myne
om weg te gee of te deel
of van te vergeet nie
dis nie my hande wat kon streel
al langs die glipgange van jou rondende lyf
ek het nie die blomme in jou hare getooi
jy was nie my nooi
of my helder lagduif oordag
en twee-uur in die nag se vuursteek nie
jy het my nooit na binne genooi
om te kyk
of ek die koerasie sou hê om van jou
my kooi-ooitjie te maak
ons het nie gedans vir die maan
ons het nie die haan se kreet
probeer naboots as stil weetstuipe
van die liefde nie
nee jy was nie myne om te verbeel
en so van te weet as dieptekennis
verder as alle wete se weggee nie
nee ek wis nie van die bloed in die lakens
of die geboortevlek onder jou bors nie
hoe sal ek nou kon onthou van jou tong
se loom akkedisbeweging in my mond
of bewus moes wees van jou koddige duime
en hoe jou liefdesvou oop kan blom
met hartjiesvog om die gaan en die kom
se vergeetpassies gelyktydig te maak ?
nee ek weet nie wat ek sê
van ‘n tong wat lepel teen die verhemelte lê
om te onthou wievandaan ek praat
en so graag sou wou hê vir desnoods se verlaat
want jy is nie van my nie
hoe sou jy ooit kon dink dis ek wat die metafoor misbruik
in fasiele verglyding van kont so onweerstaanbaar
na mond se mooi broodjiesverhale
wanneer ek sê jy was nooit myne
om in ‘n oond of ‘n boek te verduister nie ?
dit was my oë nie beskore om oor jou te wei
asof jy besit van geneem kon word of my woorde
wat jou drome innig ontwy in die sterrenag
nee ek was nie die lumierwagter op die toringmuur
of die karavaangids
of die basvioolspeler
of die vryersklong
of die digtende harlekyn nie
en nee jy was nie myne
om met ‘n serenade van snikke onder jou venster te verlei
ek het nie jou trane afgevee op die stoep
of jou aan die hand gelei na ‘n glimmende einder
van volksregverdigheid nie
dit was nie hierdie vingers
wat met die lykbesorger se eindelose empatie en geduld
aai oor jou buik
of jou oë moet sluit nie
nee jy was nie myne om af te spons
en van te vergeet jy het nie my hart geneemneem
néém-éét-dit-is-die-vlees-van-verganklikheid
dis nie ék wat onthou van die blinde wind
nie ék wat ou-ou woordnote vir jou bring
om anderkant te mag sing
van hierdie lippe se laaste soek na die ritme
van jou nippels nie
nee jy was dit nooit
is nie van my om terug te vat
of weg te gee of te steel
met die belofte dat ek nie wéér sal speel
ek loof jou met ‘n dooie lied
se versugting dat dit iewers vas
mag slaan en weerklink
in herhaling se klanke nie,
lesermeesteres…
5. wat oorbly
(« The waste remains, the waste remains and kills. »)
– William Empson, Missing Dates
toe ek ‘n jong bok was
het ek my besig gehou
met die dinge van ‘n jong bok :
geblêr, kop gestamp, agter al wat ooi is aan
getros, vir soetkoek meestertekste opgevreet,
lustig, totdat my bek swart ink kwyl,
lustig in ander man se tuin geskyt,
mooi saam lang trane gehuil onder die maan
nou ek ‘n ou hond is
bepaal ek my by die beoefening van wysheid
van ‘n ou hond :
sitlê in die son,
probeer vang die dêmmitse vlooie,
blaf vir my inkskaduwee asof dit ‘n bok is,
maak of ek nie die tefies se kantbroekiekies
aan die draad raaksien
of op hoef te vreet nie,
kou bene in my drome van gras,
kreun van die styfwordslaap,
huil lang trane onder die maan,
skryf gedigte
(moeisaam)
6. « NIE ALLES WAT STINK IS BLINK NIE »
ek wou vir julle vrede bring
ou begrippe drome wat ook
ons deel
mag wees
nie gesteel sal word of verword
tot vertaling
die vrede van voldoende vrete vir ons almal
en voorspoed in ontluiking aanvaar
wedersyds ‘n kans vir die opsystaandans kadanse
en ‘n heppie krismis ek wou
vir julle vrede bring in kiste
onder vlae op die rûens van pakdiere
maar ons menswees
het ons voorgelê in bergpasse
was een te veel
het ons oorval
want ons wou dat geweers en geld en veldverslae
verdraagsaamheidsverdrae
moes peul uit die kratte
die nagwesens hoon ons
die donkies wat geslag gaan word
lag ons uit die laaste gedagte aan besinning
a my mense my menswees
waar is Jakob nou
ons hom so nodig het
om die Esel dood te slaan ?
ek wil vir julle ‘n riem bring
vir bind onder die hart styf genoeg
om nie op te skuif na die nek van die kind
sou ruimte wou skink
waar helderheid nie gesê hoef te word
of juis ingekeep in stilte
maar julle het gedog dis die maan
en hierdie skryfvlug ‘n eendvoëlstreep
deur skemergebiede na nagvloei se besoedelde vlei
julle het gedog die eend is daar
as kos vir die pot
want ons is honger
my baas my menswees
ek sou vir julle ‘n toekoms wou sing
gebou onthou gehou
uit die weemoed
en berou oor ‘n verlede vergeet
wat anders kon ons doen
met respek en omvorming van die onderlinge pyn
maar ons menswees haal ons in
maar ons menswees is van kak en betaal
in die afskerwende taal dis die wet
van uithaal en wys van eieling en anderling
se vergelding vir al die duisende dooies
wat ons gefaal het
ook ons grafkelders sal afgebrand smeul
bouvalle puin krotte kaias rotte
ruiters rowers
ons menswees
is rook oor die maan
die lewe lek uit ‘n verrotte synsak
en wat is die sin van riviere nog
behalwe om water van betekenisvloei te voorsien
en waartoe dien die omfloersing van oewers tog
anders as om vloei na die einder te lei
waar die dood ‘n lêloerslang in die sloot is
vir die maan om haar gesig in die spieël
te kom was sodat sy gegrot onder klippe
onvolmaak toegedek tog nog weer één bloederige vlerkvlek
mag strek oor die kommetjie stof
wat haar terug na die lewe gaan lok
was dit dan is dit dan
die verkeerde woorde is elke sillabe
gedoem om stiltemoord of stuipwoede
te begaan
is vergaan ons enigste blywende bate
is dit al
waarvan ons nog binnensmonds sal sing
by die fonteine
waar water verslik aan dooie paddas
dan vra ek verskoning en vergeen
in ‘n vergeetgat smeek ek julle
steen en been
om klippe te pak
oor die illusies en skyn
van die versplinterde spieël
se stapelgek lyk van menswees
a my mense
dan wil ek vir julle ‘n liefdesbrief skryf
om te vra
moet asseblief nié
ingaan by hierdie gedig
7. die droom
(« The earth needs to be reminded of the eternity of one life :
for the origin of existence is movement » – Ka’afir)
ek het twee mense in my droom sien dans
die een was blou en die ander geel
met voete hoog in driftige oortuiging
om die aarde vas te stamp
om menswees te verbeel
ek het twee mense sien dans in my droom
die een was blou en die ander geel
bolywe regop en oë toe
in ‘n hartstogtelike déél van ekstase
se polsing die een op die maat
van die ander se vertroue toeverlaat
die een was geel en die ander blou
fier teen die wete dat alles moet vergaan
trots op die ritme van die blinde bestaan
die vlam van syn volkome ontvou
en fok die heelal ook
ingebind die ander in die een
stilte van dans in my droom
die een was blou en die ander een geel
en my hart het gebokspring in my keel
met die omblaai het ek ‘n derde lyf sien staan
in die gloed van goue afwagting
om ingeskryf te leef in die dans
en gesien dit is ek en dié ek onthou
die leerlingdanser uitgemeet in papier
maak my wakker!
ek moet in alle helderheid hier die ontnugtering
vas kan hou en sterfgang se passies nie vergeet
die drie mense nie ophou verbeel
nie te laat gaan uit die baan
waar hulle in die knetterende vel
van my droom aanhou dans
die een is blou en die ander een geel
en my hart ‘n offerbok veras in die keel
8. « charity begins at home »
.
Boeddha – jy moet my help
dat ek myself genadig mag wees.
Hierdie derde oog van alles sien
soveel so dat die niet
ook in fokus kom
wou net nie oopgaan nie
al het ek ook toe ek jonk was
op my kop gestaan
en Sarie Marais…
(wel, fluit-fluit sonder broek
op die mees ongeleë tyd
en met koddige aannames
was nog altyd my forte)…
en al het ek ook die ontstoke frons
gevryf totdat dit so skilferig
rooi en seer was soos ‘n roos :
die blaartjies het eenvoudig verseg
om te ontvou in ‘n blou blik van onskuld
om alles te mag aanskou
en weer te vergeet van die geblikte
onthou se vergetelheid…
En nou ek my gesig verloor
in die gedig
vra ek mooi om in die donker
te mag spook tot in lengte
van my dae en nagte se verdwyn :
ek wil nie in die lig bly lewe
én met pyn sien wat aangaan nie…
Jy wil my leer om Siener te word ?
Als-saam-blief ! Want om Sikloop te wees
is geen seën is gewis net ‘n spieël
vir voëls om hulle vlerkies te kom was in die reën…
Hélp my om my blindsig te gewaar, na waarde
te waardeer en ervaar
en bewaar my van die goddelose oop-oog bose
9. (die stilte)
« How should we like it were stars to burn
With a passion for us we could not return ?
If equal affection cannot be,
Let the more loving one be me. »
– W.H. Auden
nou het ek tot aan die drumpel
van nege ene gekom en my skoene uitgetrek
omdat ek nie meer voete het nie
‘n lewe is die geraas
van lemme en van stemme
en smouse wat illusies skreeuend opveil
ons kom van nêrens
uit die niet gefetus in ‘n skede bloed
en leer ons bestaan is om te mag vergaan
ter wille van die rym
met foneme se feniks
verskynsels van dese en gene aan die lyn
van ons bewussyn gehang
soos skimme van wie ons was
elk met ‘n mondjievol preweling
of ‘n verroeste fluitjie in die sak
en die honger oë wat so pleit
om onthou om onthou
te behou : die voëls se vlug
is die waan van landskappe lig
verwelk teen die geboue se fasades …
maar snags wanneer die uitspansel bewe
en daar geen jakkalse is om na te roep
omdat die maan swart verlyf
in die mond van skrywe
wéét ons ons weet
weer watter stilte in ons roer
en dan gaan dit nou oor
hoé om
die dood mak te maak
soetjies, soetjies
sodat sy haar soetvoetjie
lankuit langs my kan kom
vly om soetjies
van my besit te neem
en (ons) asem uit te blaas
sonder al die geraas
van stilte
« what happens to the heart ?
« et maintenant – que vais je faire ? »
[© Breyten Breytenbach / 2019]
Ook verwondering oor die Breërivier van Bonnievale se veelsydige outobioverse (nie van die “bring back my Bonnie to me”-soort nie). Mens registreer krisis, kwessies wat verander, selfs vanaf asyn aan die lippe na olie aan die lippe, en oor eerste en (‘n intieme intimasie van) laaste verkeer.
Ek dink hierdie fragmente is die uitdrukking, die samevatting, van ‘n persoonlike poëtiese antropologie.
Manjifieke verse! Mag hulle tot in Swede weerklink.
Liewe Breyten, baie dankie vir jou woorde van waardering! Mag die ‘reise’ en ‘fragmente’ steeds hierdie ongelooflike leesplesier op Versindaba wees in die toekoms. Groete.
Hierdie is net ‘n toets om te kyk of die kommentaar funksie werk op die webtuiste.