Voor die kerk van Msida, Malta
Brul verby julle jaagduiwels,
want die lewe is kort
en swenk onverhoeds
soos die draaie om
die baai van Msida.
En wat baat dan
die vrou in haar nis?
’n Armade van weelderige jagte
wieg gelate voor anker.
Die maat is Meditereense,
die bries nog somers en lig.
Maar wat ’n kraaines
is hierdie marina nie.
’n Ware doolhof
van takelwerk, maspale
en benoude kanale.
En watter skipper het
nog tyd vir opkyk en staar
na die vrou omhoog
reeds eeue lank daar in klip?
Omring deur versteende duiwe,
staan sy bo die kerkdeur
met ope arms steeds op wag:
die boegbeeld van ’n skip
lankal hier gestrand.
Geseënd is die armes van Msida.
Geseënd is die reeds geseëndes.
Geloof troef selfs die dood,
want kyk, ’n klipduif kon sowaar
uit haar stralekrans ontsnap:
’n gekoer, ’n gefladder
vér daar bo
op haar swaar-bemiste hand.
© Hennie Nortje
Oktober 2019