Hospitaal, eensame doolhof / êrens val lig in blokke
steriel die vloere / my hart klop elektries, iewers
naalde en bloedsusters. Ongesiens glip ek deur
vlakke van nabyheid en afstand / ongekend.
Môre / ’n dagreis ver en geruisloos soos wit
komberse. Moederowerste, agter poorte lê
pêrels en die vaak / jou kruise besweer niks
én alles / jou bidkrale klik stom.
Vader van pyn / jou vleishakies soos ’n Bacon-
skildery / Francis Francis, jou screaming pope
kasty en betig met vuur / maar ligjare verwyderd
van vlees reis ek over the rainbow
© Gisela Ullyatt, 2020
Vleeslikheid word soms verbloem, maar die vleeshakies waaraan die mens opgesny bly hang, dié spesifieke Bacon-skilderye en die gedeelde res is nou meer as ñ vae vuur van dit wat is en hoe dit regtig is – dit is meer as ñ gedig.
Gisela, ‘n roerende gedig. Die onsigbare pyn intens voelbaar gemaak.
Gisela, ‘n roerende gedig. Die onsigbare pyn helder en voelbaar gemaak.
Ai, Hannes ek waardeer jou kommentaar. Ek het jóu gedig, “Covid – internering” , wat vroeër (vandeesweek? My begrip van tyd verswak met elke dag) baie roerend gevind, maar sonder enige soetlike sentiment. Die beelding daarin is so helder en dit is byna soos ‘n mini-film wat voor my geestesoog afgespeel het. Die slot, werklik treffend. Welgedaan!
“Geruisloos soos wit komberse” en met “bidkrale wat stom klik” neem jy ons op die onbekende reis waarvan ons eintlik niks weet nie en nie op kan voorberei nie. As mense weer vir my vra wat maak ‘n gedig ‘n gedig, is hierdie ‘n puik voorbeeld. Twaalf reëls, n volkome verhaal. Dankie Gisela.