Ignatia bid om orde
Dat pyn bestaan is onnodig, Heer
vir wát moet lewe ’n pynboom word
met bitter vrugte van verdriet en afleer
in mý reaksie vol wrewel en ongeduld?
Vergeef my Heer: klontjies pyn
maak die lewe tans ondraaglik:
soveel maal gebid om klaarheid
in ’n soeke na dít wat tog sal rym
© Joan Hambidge (uit: Nomadiese sterre; onvoltooid)
N.P. van Wyk Louw (1906 – 1970)
I
In ’n ander stad, op ’n ander kontinent
kon jy soveel dekades terug
met suiwerheid en presisie
’n hele digkuns herskryf.
In jou digterlike kladboek besin
oor die winterlandskap van die hart,
na verlange wat bly knaag: ’n wisent
of jakkals se onbedekte kap-kap …
“’n Ysbreker sou sneeu …”
Jy laat die beeld. Jy begin weer.
“Vir sneeu het Eskimo’s
een-en-twintig of meer woorde …”
Die hart van liefde het koud
geword: soos ’n yssplinter.
Ook dít skrap jy. Met fyn potloodskrif
in die kantlyn: die beelde nog te tam.
In ’n Amsterdamse kroeg stol
twee jenever-glase heimlik onthou.
II
Die volgende dag probeer jy weer. Die burgery
se geroesemoes steur jou: “Pils! Pils!”
Jy laat jou drankie soos ’n onbestelde
versreël wag. In jou kladboek staan:
“Die mens is ’n walg.” Net dit.
Boesman-tekeninge in ’n grot:
fyn, vlug – immer, immer op trek
soos ’n hart (sonder hawe). Skrap.
Hoe stel mens liefde voor?
Ons Liefde? Die liefde?
Altyd op trek soos ’n Boesman
iets gewigtigs aanstip teen ’n grot
se wand: wisent, eland, kameelperd.
Net sjamane mag boontoe praat
namens ander. Hul towerspreuke
vertel van oorwinning, dood, trek.
Klein hiërogliewe van verdriet.
Daardie dag, daardie dag toe jy, meisie in bruin,
my lewe verlaat: verlaat lewe my.
III
Dit was Mei-fees in Amsterdam, die eerste.
Lente toe jy (deur die gode gestuur) na my
gekom het. En winter was dit toe jy finaal
weg is. Daar was tekens, ja tekens.
Soos voetspore in die stil-stil sneeu.
’n Silwer herberg met drie vensters.
In my hand ’n klein liefdespand.
Onthou, onthou hoe jou mond trek, die lyne
om jou oë … Soek vergeefs ’n beeld
om die verdriet van weggaan te verbeeld:
“Jy’t weggegaan en jy bewoon
die silwer herberg van die hart
en buite voer daar iemand merels
teen die wind.” Onvoltooid.
My halwe kring soek nog vergeefs
na voltooidheid. Kortstondig was jy:
’n opslagsomer, my middernagson.
’n Himne, my ode aan die skoonheid …
Toe die iteratief-duratief van verdriet.
Toe jy kom na my, die ou-ou gek
was dit Mý-(laaste)fees in Amsterdam.
IV
’n Swart brief oor die verre oseaan
vol nuus van liefdesmoord en verraad
laat jou terugkeer na jou vaderland.
Vir ons pyn was daar geen passaat.
Die verlies van ’n jonger broer laat
jou terugkeer na jou moeder ontroosbaar.
Jy laat, helaas, ’n groter trooste-
loosheid agter: ’n onheilige digter
na sy heelheid soekend, soekend …
O vrou in bruin, ek groet jou
met die helderheid van ’n digter
omgeef van eensaamheid:
palindromies vir ewig deurdrenk.
V
∞ Altyd die ewigheidsteken,
’n inskripsie vir jou.
VI
En sy? Die geliefde vrou?
Sy verlaat die koue herberg
vir ’n soele oker landskap
Hier ’n nuwe taal geleer
– die lispelende s van Katalaans
nooit werklik bemeester –
buitelende seuns verwek,
’n man behaag, vertrou, bemin
en kortstondig voltooi: ’n ander kring.
VII
Haarself moes sy suiwer:
’n brandstapel maak,
prewelend bid:
“Eenmaal in ’n vuurgloed eenmaal …”
Dae lank gebloei oor hom
en ’n onbesonne verbintenis.
In swart drome helder gedroom
oor heelheid, vervulling, geluk.
Bedags na die yke op haar lyf gekyk:
die aflaat betaal ten duurste.
VIII
Maar die vuur van onthou
sou bly skroei soos ’n bergbrand,
met versreëls skilpaaie skarrelend
en in vele slapelose nagte
sou sy ongeposte briewe skryf –
adres ónbekend,
bestemming vaag –
aan hom: “Jy had nie gelyk
oor die intellek of God; ons
is nie net ’n gedagte of Idee.
Ons is Gees, soekend na Hom.”
Speurend na ’n rymwoord vir dúúr.
Die fyn membraan tussen hulle
kon selfs die dood nie skeur nie.
Sou hy kon voel hoe sy aan hom dink
en steeds met sy vrae worstel?
Twee paar oë wat één sou word.
IX
Ek, helaas, kan net by benadering skryf –
’n afleiding maak, wederregtelik inkyk
op hierdie Abélard en sy Heloïse –
’n liefde groter as woorde:
X
“Mens kan net eenmaal iets so volmaak
soos die ewigheid van ’n gedig ervaar,
net eenkeer liefde so onhoudbaar,
so volledig, so volmaak, so totaal,
in iets broos soos ’n roos vertaal.”
XI
Die digteres plaas haar pen neer
na hierdie psigiese keerweer.
’n Kaapse herfsdag gloei soos vuur.
© Joan Hambidge (uit: Lykdigte, Tafelberg, 2000; herdig: 2020)
Foto van die digter: Antonia Steyn