Thomas Deacon. na jare van swerf tussen beton
na jare van swerf tussen beton
en staal en glas en roet
maak ek weer die plaashek oop
en stap verby die kweperlaning
en vyebome wat hangtak soos vervloektes langs die leidam staan
ek slaan my oë op na die plaasopstal
waar sal my hulp vandaan kom
my hulp lê in ou-drome van lamplig wat deur gebarste vensters flikkervlam
en van pa en ma wat voor die koolstoof sit
en ek wat vinger-vir-vinger
met sus en daan en kees en kiet
en langoor oor die letters boer
o bring my terug na die ou boesmanland
daar waar my sarie woon
sing ma en pa
terwyl die reuk van moerkoffie
rondom ons dwarrel
maar pa en ma lê ingemessel
tussen wit klippies teen die rant
en kees en kiet en sus en daan
en langoor rus vergeel in ‘n laaikas
langs my bed
en die plaasopstal staan holoog en wag vir uile van die nag
om op die nok van die dak te kom sit
en met ‘n hoehoeroep die plaashek toe te bid
© Thomas Deacon, 2020
Pure nostalgie!