die Testament deur Bester Meyer. Naledi, 2020.
Resensie: Stefan van Zyl
As inleiding tot hierdie kort resensie van die regsgeleerde en musikant Bester Meyer se debuutbundel, die Testament (2020), stel ek die digter self aan die woord:
Ek weet nie of alles wat gesê en hier neergelê is in swart letters van die alfabet gesien kan word as gedigte nie, of dit die stempel van dit wat as literêr beskou kan word, sal wegdra nie. Dit maak nie meer saak nie. Wat is gedigte dan nou werklik? ʼn Niks. Net soos wat ons as mense dan ook maar eintlik ʼn niks is. ʼn nietigheid in die Groot Niet. Wat gee ʼn geskrif sy gewig? Sy waarde? Seker maar die feit dat hy in sekere opsigte te lig bevind moet word om vir ander te vertel dat waarde nie altyd gemeet kan word aan wat die status quo as waardig beskou nie. […] Soms moet ons odes nie noodwendig betekenis probeer daarstel nie. En soms moet die kritici weggejaag word van ons odes af om plek te maak vir odes om vrylik gesing te word deur dié waarvoor betekenis nie belangrik is nie (in die woorde van Darwiesj se gedigte) (pp. 151-152).
Met hierdie standpunt as agtergrond gee ek ʼn uiters bondige oorsig van die struktuur en inhoud van die Testament. Dié lywige bundel bestaan uit ʼn inleidende gedeelte getiteld “Ons is naamloos”, wat opgevolg word deur nege dele getiteld “Sê my, man van Paname”, “Die klank van die son”, “Die boot”, “As ooit”, “In die selle van bevryding”, “Een-, twee-, drie-, vierkuns (deel I-IV), “Die Verhoor”, “Die Testament” en “Musiek vir jou ure”. Daar is egter geen poësie in die laaste afdeling nie, maar wel bemarking van Meyer se album, Musiek vir jou ure, wat toonsettings van verse deur NP Van Wyk Louw, Ingrid Jonker, Breyten Breytenbach en Gisela Ullyatt bevat. Die bundel is eklekties van aard en benewens die oorspronklike en vertaalde vrye en narratiewe verse kom daar ook mymerende prosa (veral in Deel 6), ʼn dramateks in Deel 7 en ʼn essay in Deel 8 voor.
Die formele nommering van die afdelings en verse in die inhoudsopgawe herinner aan die hoofde van betoog wat in howe gebruik word en sluit aan by wat beskou kan word as die hoofbetoog van die bundel, naamlik om wêreldburgers te oortuig om saam te staan ten einde hedendaagse uitdagings, onder andere die Covid-19-pandemie wat breedvoerig in Deel 5 en Deel 6 van die bundel hanteer word, die hoof te bied. Teologie, religie, mitologie en spiritualiteit is van die temas wat die sterkste figureer en word deurentyd vervleg met eksistensiële vrae, transformasie, maatskaplike en politieke kwessies, en, onvermydelik, die digter se ervaring en beskouing van verskillende aspekte van die liefde. ʼn Goeie voorbeeld van hierdie versmelting van temas kan gesien word in hierdie vers in Deel 3:
ʼn Oproep tot Ashtanga (pp. 44-45)
om en om
buig ek by die lotus voete
van ʼn Jesus, ghoeroe self, ghoeroe
om
ontwaking van die self te openbaar –
die vorm van noodwendige goedheid
medisyne man kom neem my hand
maak hierdie dwaling
van geboorte en van dood
gesond, en om en om en om
ʼn saluut aan Patañjali om
hy wat mens se vorm neem
tot by die skouers van bestaan,
sy seeskulp, skyf en swaard
ʼn nagmaalbeker in en uit,
en om en om en om
soos Jesus aan die kruis
vir my
voorspoed vir die mense
voorspoed vir die leiers
wat die aarde beskerm
op die pad na geregtigheid.
voorspoed vir die koeie –
vrede onskuld aardse moeder
vir skoliere van deugsaamheid
en mag die wêrelde glim
met die in en uit asem
van mede-deel-saamheid
mag die wolke op tyd hul reën bring
en lande oorvloedig wees met koring.
mag burgertwis van huis tot huis verdwyn
en volke wonings bou wat vrees ontsê.
skenk kinders en kleinkinders
aan die wat daarvoor vra
en behoed tog die armes
in hierdie donker dae …
en laat ons om en om en om
– tog leef –
vir honderde jare …
die ligging van die heelal
is tog so hier, hierdie oomblik
hemels – Heer Jesus –
Patañjalim – ʼn bede –
vir vrede
om en om
en vrede
om en om en
Om
Daar is ook verse oor die natuur, plekke soos Sunset Beach, Alberton en Orania, digkuns, joga, die regswêreld, siekte en dood. Die bundel is voorts dig gelaai met intertekstuele verwysings (Breytenbach, Brink, die Bybel, Camus, Cohen, die Dalai Lama, Floyd, Freud, Gandhi, Gibran, Joplin, King, Krog, Lennon, Mandela, Nietzsche, Rabie, Rousseau) wat die ernstiger leser noop om heelwat ekstra leeswerk te doen ten einde ʼn meer bevredigende greep op die bundel te kry. Dit is egter moontlik dat hierdie ryk intertekstuele aanbod die bundel minder toeganklik vir die deursneeleser van Afrikaanse poësie kan maak.
Breyten Breytenbach se bundel Oorblyfsel/Voice over (2009), waarin hy in tweetalige verse ʼn poëtiese gesprek met sy vriend die ontslape Palestynse digter Magmoed Darwiesj voer, het as hoofimpetus vir die skryf van die bundel gedien. In Deel 8 van die bundel gee Meyer, as sogenaamde “eksekuteur” van die Testament, aan die “begunstigdes” (lesers) ʼn uiters komplekse filosofiese uiteensetting van sy skryfproses en die rol wat Breytenbach en Darwiesj se werke daarin gespeel het. Hierdie uitgesponne essay word voorafgegaan deur ʼn Afrikaanse vertaling van Darwiesj se vers “Die dobbelaar” wat geskoei is op die Palestyns-Amerikaanse digter Fady Joudah se Engelse vertaling vanuit die oorspronklike Arabies:
Die Testament (p. 151)
(ʼn Oorbly-wende meditasie)
My enigste hand in (ʼn)(dié) gedig
is om die ritme te gehoorsaam,
en haar beweging aan te voel,
een gewaarwording
wat in ʼn ander verander
en voorgevoel wat betekenis openbaar:
bewusteloos in die eggo van woorde –
my self se toonbeeld
soos dit homself her-vestig
vanaf my “ek” na ʼn ander –
my vertroue en hunkering
vir fonteine van water.
Volgens die erkennings agterin die bundel sal die volledige vers gepubliseer word in Meyer se Afrikaanse vertalings van Darwiesj se verse wat eersdaags as Die vlug van ʼn vreemdeling gepubliseer word. Van hierdie vertalings verskyn wel reeds op Versindaba.
Benewens die verse van Breytenbach en Darwiesj steun die bundel swaar op veral twee romans van André P. Brink, naamlik Lobola vir die lewe (1962) en Miskien nooit (1967). Die invloed van eersgenoemde teks word regdeur die bundel gevind met die gebruik van kort genommerde verse met die gedeelde titel “Klein Bedesnoer” wat ʼn herskrywing van soortgelyke skryfsels in Lobola vir die lewe is. Buiten hierdie kort versies is daar ook uitgebreide plasings van die oorspronklike romanteks aan die einde van sommige verse. Die verse in Deel 4, wat aan André P. Brink opgedra word, volg in dieselfde trant die storielyn (beelde en karakters) van Miskien nooit.
Die gevaar wat ʼn digter loop wanneer daar só sterk op intertekstuele spel met drie kanonieke skrywers gesteun word, is dat dit moeilik word om sy eie stem te laat hoor. Myns insiens het Meyer te veel verskillende dinge in een bundel probeer doen en dit kan moontlik vir sommige lesers tot ʼn onbevredigende leeservaring lei. Aan die ander kant slaag hy wel oorwegend daarin om die “eksistensieel nihilistiese beskouing van ʼn paar dekades gelede te laat herleef” in hierdie “metafisiese revolusie”. die Testament (2020) word tans deur Meyer in Engels vertaal met die titel Rebel song (wat onmiskenbaar ʼn direkte verwysing na die gelyknamige vers in Breytenbach se bundel Lady One (2002) is). Voornemende lesers kan na lokvideo’s van die Testament op Meyer se YouTube-kanaal kyk.