Posts Tagged ‘Bester Meyer’

Bester Meyer. Voëls se Lewensmiddele?

Thursday, August 13th, 2020

The language is the property of the people. Each derives its unity from the other. For if language has a body and a system, they inhere in the people assembled and “bodily” united: “It is a people in a body that makes a language . . . . A people is thus the absolute master of the spoken language, and it is an empire they possess unawares.” To dispossess the people of their mastery of the language and thus of their self-mastery, one must suspend the spoken element in language. Writing is the very process of the dispersal of peoples unified as bodies and the beginning of their enslavement – “Of Grammatology”, Jacques Derrida.

 

Elke geskrewe woord dra ʼn deeltjie Godheid met hom saam. Iets wat anderkant die stilte

–anderkant die passasie– lewe gekry het, en nou ín ʼn nuwe teenwoordigheid kom koer van ʼn ander-se teenwoordigheid met die doel om ʼn waarheid daar te stel of oor te dra. ʼn Waarheid wat nie aan die woorde (bloot in hulle vorm as teken/s) van die geskrif kleef nie maar eerder aan hulle (eie) ding-heid. Ek dink dit is Antjie Krog wat êrens geskryf of gesê het om te lees is om te skryf (en vice versa, natuurlik óók). En derhalwe, soos wat ons stories en dit wat ons as gedigte beskou (of nie beskou nie) herskryf of herlees word; soos wat die geskrewe woord oorvertel of toegelig en/of vertaal word, vind daar in ʼn mindere of meerdere mate ʼn verdoeseling van oorsprong plaas, maar tog is dit dáár. Soms is daar egter ook vir die skrywer of vertaler of oorverteller of manipuleerder of digter (of hoe dit ook al sy) ʼn kennis-making met sy rol as verkleurmannetjie—om transformasie daar te stel. Hierdie transformatiewe stem word in die taal van woorde uitgedruk in ʼn poging om die in-kennige waarheid te simuleer of na te boots. Dít wat enige geskrif (letterkundig of andersins) sy skoonheid gee, lê gesetel: 1) in hierdie die waarheid; en 2) die suiwerheid van die nabootsing.

Soms is daar verskillende opinies en sienswyses oor wat hierdie waarheid of suiwerheid moet behels; waaruit dit moet bestaan; of wat dit moet voortbring om as ʼn goeie geskrif geag of geklassifiseer te kan word—óók, wanneer die geskrif waardig genoeg geag kan word om as letterkundig benadruk te word; of wanneer dit goed genoeg gepoleer en afgerond is om aan sekere styl- en stelreëls te voldoen. Reglemente. Reglemente. Dit is asof  ʼn mens tog net moet doodseker maak dat wanneer jy kom branderplank ry tussen die Kaapse branderplankryers, dat jou plank met die regte waks gepoets is— tóg ry almal dieselfde ou see se golwe. Maak opinies oor die waarhede of suiwerhede (of dan nie-suiwerhede) werklik saak? Is ʼn hiërargie vir die geskrewe woord se estetika werklik ʼn noodsaaklikheid?

Sekerlik is daar ʼn groter verantwoordelikheid op die digter of skrywer om die vraag van “wat is” en “waarom is” te beantwoord, en tot op die been toe oop te vlerk. Om op te staan vir die wat as gevolg van die dae gister –maar meer belangrik– nou, in lig van vandag se status quo, lafenis sal kan vind met die gespreek en/of spreuke van gevleuelde woorde – op watter wysie ook al – en om só ʼn tong te (kan) verleen aan die tonglose proletariaat, wie se kinders – soos gister – smag na nét ʼn bietjie vryheid. Nét ʼn bietjie gelykheid. Nét ʼn bietjie woorde om die lasposte wat hulle nessies bedreig vir nou, te bedwang. Voëls het óók hulle lewensmiddele, en saam met dít hulle verantwoordelikhede.

 

Stem van Barmhartigheid

(l’amour de soi —  l’amour-propre)

 

ek skryf vir jou sonder medelye

maar my stem reik uit na jou

om metafoor daar te stel –

 

in my stem hoor jy

die sagte stem van God –

dit wat Hy kom uitgraveer het

in die binne-kamers van my hart

 

mag ek tog nooit my liefde vir die self

verwar met self-liefde nie –

laat ek altyd eet neem en drink

uit die fontein van oorsprong –

dít wat hart se kamers voed

en in daardie klop

die vloei van medelye

as ʼn waarheid versin:

my vertikale verbinding met ʼn vader

wat hierdie menswoorde kan inhibeer

deur ʼn tweede-geboorte van liefde –

 

(Bester Meyer, 11 Augustus 2020)

 

 Voëls se Lewensmiddele – Magmoed Darwiesj

 

Saam met brood

is jou liefde aan my gegee

om aan die lewe te bly,

en solank ek naby jou is

gaan my lot my nie aan nie –

Neem daarom die woorde aan

as enige betekenis (wat jy wil)

neem dit saam met my of neem dit alleen –

want daar is geen huis nader

aan dit wat ek reg hier voel

in hierdie vlietende lente,

rondom die bome van ander nie.

 

Jy is aan my gegee

as moeder vader

vriend en broer vir die pad

en geen voël verduur meer as wat hy kan nie:

oorbodig is sy vere, sy hunkering

en ʼn koringkorrel vir die broodnodigheid van die lied.

– Wees – daarom in my hemel soos ek (dalk net) in joune is.

– Wees – jou vreemdeling van die muwashah:   myne

net soos ek joune is:   is my water joune

is my sout joune.

En my naam op jou naam

ʼn talisman wat ons bymekaar sal bring

naby die heuwels van Samarkand in die goue era.

 

Want ek en jy is onvermydelik.

En die ander is onvermydelik, want

dit laat ons die trompette van ons vorige broers hoor,

wanneer hulle hulle perde van enige kant af bestyg

om nooit weer terug te keer nie.

 

Vreemdeling    – wees –

die ander vreemdeling se vrede

in die wapenstilstand van die afgematte.

– Wees – haar dagdroom wanneer ook al

ʼn maan haar pynig op haar roete van Jerigo af terug.

 

Dít is die weg waarop godinne teruggekeer na die dromers

na die afloop van die oorlog, want elke daar is ʼn hier.

En ek hou nie daarvan om terug te keer na my ster toe nie –

Nie nou dat my wysheid ouer geword het nie.

Bring daarom dit wat afgeleë is na my tent toe

sodat ons dit kan bestyg

soos die takke van twee berkebome

op ander se mure om môre die ander te word.

Daar is geen tuiste nader as wat ek rég hier voel nie –

– Hier – terwyl ek swanger is met die vlietende lente (nie).

Ek het saam met brood voeding gegee aan jou liefde en

solank ek naby jou is, weet ek my lot gaan my nie aan nie.

Daarom wens ek ek het jou nooit liefgehad nie –

Ek wens ek het jou nooit liefgehad nie!

 

(Vertaal in Afrikaans deur die skrywer uit Fady Joudah se Engelse vertaling in “The Butterfly’s Burden”, Copper Canyon Press, 2007).

 

 Lied van Droefheid – Lucille Clifton

 

vir die oë van die kinders,

wat laaste is om te smelt,

wat laaste is om te verdamp,

vir die dralende

oë van die kinders – starend –

die oë van die kinders van

bucenwald,

van viët nam en johannesburg,

van nagasaki,

vir die oë van die kinders

van die middel-passaat,

vir cherokee-oë, ethiopiese-oë

russiese-oë, amerikaanse-oë

want al wat van die kinders oorbly,

is hulle oë,

wat na ons staar,

en met verwondering

die buitengewone boosheid

van gewone mense gadeslaan.

 

(Vertaal in Afrikaans deur die skrywer: Lucille Clifton, Next: New Poems, BOA Editions, 1987) 

 

 Vere en Vlerke

 

ek en jy

is anders

van mekaar

 

ek en jy

is die samelewing

die sisteem

waaruit alle boosheid

en goedheid voortvloei

 

ek reik uit

na my ander

maar weet nie

waar ek ophou

en hy begin nie

 

ek weet

binne my

is daar

(ten spyte

van my)

ʼn ander sy

wat uitreik

na die my –

saam-saam

beweeg ons

na die Hy

 

ek en jy

is anders

van mekaar

een in naam:

ingeselwers

in twee liggame –

voëls van een-derse vere

met twee ander-se vlerke

 

(Bester Meyer, “die Testament”, April 2020)

 

 Gedig as Tronksel

 

hierdie gedig

is ʼn tronksel

waarin ek

probeer opsluit

wat binne is

 

dit is ʼn tronksel

waarin nie

ek of jy leef nie:

net haar hartklop –

wat sy vir nou

geheim wil hou

 

hierdie gedig

verseg ʼn wêreld

waarin slaaf en

meester bestaan

 

my, wat dink jy is binne?

(Bester Meyer, “die Testament”, April 2020)

 

 But I say that any tongue with which one cannot make oneself understood to the people assembled is a slavish tongue. It is impossible for a people to remain free and speak that tongue – “The Essay on the Origin of Languages”, Jean-Jacques Rousseau.

 

Magmoed Darwiesj. Vertaling in Afrikaans

Saturday, January 11th, 2020

Magmoed Darwiesj. Vertaling in Afrikaans. Vertaal deur Bester Meyer.

.

Ons was sonder ‘n Hede

 

laat ons gaan soos ons is:

‘n vrye vrou en lojale vriend.

laat ons op twee verskillende paaie saamgaan

laat ons afsonderlik gaan, en as een,

met niks wat ons seer maak nie.

nie die skeiding tussen duiwe;

of die koeltes tussen hande;

of die wind om die kerk,

wat uit die amandelbome fleur, was genoeg  nie.

so glimlag vir die amandels om selfs meer te blom

tussen die skoenlappers van twee kuiltjies

 

daar sal binnekort vir ons ‘n nuwe hede wees.

as jy terugkyk, sal jy slegs die ballingskap

van jou eie terugblik gewaar:

jou slaapkamer;

die binnehof-wilger;

die rivier agter die geboue van glas;

die kafee van ons afspraak…dit alles, alles

word voorberei om ballingskap in te gaan,

so laat ons dan goedhartig wees!

 

laat ons gaan soos ons is:

‘n vrye vrou en ‘n vriend lojaal aan haar fluite.

ons tyd was nie genoeg om saam oud te word nie;

om uitgeput na die teater toe te loop nie;

om ‘n einde aan Athene se oorlog met haar bure te aanskou,

en om die fees van vrede tussen Rome en Carthago te sien nader kruip nie.

Binnekort sal die voëls van een epos na ‘n ander verhuis:

was hierdie pad slegs stof in die vorm van betekenis?

het dit ons laat opmars soos ‘n verbygaande reis tussen twee mites?

soos die pad onafwendbaar is, netso is ons ook onafwendbaar

soos ‘n vreemdeling wat homself in die spieël van ‘n ander vreemdeling gewaar?

nee, hierdie is nie die pad na my liggaam toe nie.

daar is geen kulture oplossings vir eksistensiële bekommernisse nie.

waar ook al jy is, is daar ‘n werklike hemel vir my.

wie is ek om jou die verlede se son en maan terug te besorg.

laat ons dan goedhartig wees…

 

laat ons gaan soos ons is:

‘n geliefde, vry, en haar digter.

dit wat van Januarie se sneeu geval het was nie genoeg nie,

so glimlag, dat die sneeu gekam word soos katoen op die Christen se gebede.

in ‘n wyle sal ons terugkeer na ons môre, agter ons,

daar waar ons jonk was, in liefde se begin

soos Romeo en Juliet wat Shakespeare se taal leer ken…

skoenlappers het uit die slaap uit gefladder

as ‘n lugspieëling van ‘n vlugtige vrede -ons met twee sterre tooi-

en ons doodmaak in die stryd om ‘n naam tussen twee vensters.

so kom laat ons gaan,

en laat ons goedhartig wees.

 

laat ons gaan soos ons is:

‘n vrye vrou en ‘n lojale vriend.

laat ons gaan soos ons is.

ons het met die winde van Babilon af gekom,

en ons marsjeer straks na Babilon toe…

my reis was nie genoeg vir die denne

om in my voetstappe

‘n loflied te uiter vir hierdie suidelike plek nie.

hier is ons goedgesind.

ons wind is uit die noorde, ons liedere uit die suide.

is ek ‘n ander jy, en jy ‘n ander ek?

Hierdie is nie die pad na die land van vryheid toe nie.

hierdie is nie die pad na my liggaam toe nie,

en ek sal nie tweekeer ‘n “ek” wees nie.

nou dat my gister my môre geword het,

en ek in twee vroue verdeel het –

is ek nie van oos of van wes af nie.

ook is ek nie ‘n olyfboom

wat skadu gooi oor twee verse van die Koran nie.

laat ons dan gaan.

daar is geen kollektiewe oplossings vir persoonlike besware nie.

om saam te kon wees, was nie genoeg vir ons om saam te wees nie.

ons was sonder ‘n hede, om raak te kon sien waar ons was.

kom ons gaan soos ons is,

‘n vrye vrou en ‘n ou vriend.

laat ons op twee verskillende roetes saamgaan.

laat ons saam gaan,

en laat ons goedhartig wees…

 

 

Sonnet I

 

as jy die laaste is wat god vir my sou sê: wees die voornaamwoord

wat die verdubbeling van “ek” onthul. Geseënd is ons nou dat

amandelbome die voetspore van verbygangers verlig het,

hier op jou oewers, waar korhoenders en duiwe, bo jou, fladder

 

jy het die hemel met ‘n gasel se horings gesteek, en toe vloei woorde

soos dou deur die natuur se are. wat is die naam van ‘n gedig?

voor die dualiteit van skepping en waarheid, tussen ‘n afgeleë hemel

en jou sederbed, wanneer bloed smag na bloed, en marmer hunker?

 

‘n mite sal rondom jou in die son moet baai.

hierdie menigte, hierdie gode van Egipte en Sumerië verander hulle rokke onder palmbome, verander hulle dae se name, en volvoer hulle reis tot rym se einde toe…

 

dit is nodig vir my lied om asem te haal: die digkuns is nie digkuns nie,

en prosa is nie prosa nie. ek het gedroom dat jy die laaste is wat god my vertel:

toe ek beide van julle in my slaap gesien het, en gevolglik was daar woorde…

 

Uit: die Bed van die Vreemdeling (1998) uit Arabies vertaal deur Fady Joudah (the Butterfly’s Burden, Copper Canyon Press 2007) Vertaal deur Bester Meyer

Magmoed Darwiesj. Vertaling in Afrikaans

Thursday, January 9th, 2020

Magmoed Darwiesj. Vertaling in Afrikaans. Vert. deur Bester Meyer.

.

Poëtiese Regulasies

 

die sterre het slegs een taak gehad:

hulle het my geleer om te lees –

dat ek ‘n taal in die hemel,

en nog een hier op aarde het:

wie ís ek?    –    wie ís ek?

ek wil nie nou al antwoord nie

 

mag ‘n ster inval op haarself.

en mag ‘n kastaiingboom-woud

opreis na die melkweg, saam met my

en mag dit sê:

jy moet híér bly!

 

die gedig is daarbo:

sy kan my wys maak net wat sy wil.

sy kan my leer om ‘n venster oop te maak –

om tussen legendes ‘n huishouding te bestuur –

sy kan my vir ‘n rukkie, in eg verbind aan myself

 

my vader is daaronder:

hy dra ‘n duisend jaar ou olyfboom

wat nòg van oos nòg van wes af is.

laat hom met rus –

weg van sy veroweraars vir ‘n ruk.

en wees tog net delikaat met my.

en versamel iris en lelie vir my

 

~

 

die gedig laat my staan

en vlug in die rigting van ‘n hawe

waar die matrose lief is vir wyn,

en nooit terugkeer na dieselfde vroue nie –

hulle het nie berou, of hunkering na enigiets nie

 

liefde het my nog nie gedood nie,

maar ‘n moeder sien die vrees wat angeliere

vir die blompot koester in die oë van haar seun.

sy huil om dinge af te weer voor hulle begin.

sy huil vir my om lewend terug te keer

van my bestemde pad en hier te lewe

 

die gedig is nie hier of daar nie.

en hy kan nagte verlig

met ‘n meisie se boesem.

met die gloed van ‘n appel,

maak hy twee liggame vol met lig.

met die katjie-piering se asem

kan hy ‘n vaderland laat herleef!

 

die gedig is in my hand –

ek kan stories deur haar hande laat vloei.

maar sedert ek die gedig aangryp,

is ek verkwistend met my siel,

en nou vra ek:

wie ís ek?    –    wie ís ek?

 

 

die Dromers kom van een Hemel na ‘n ander verby

 

…en ons het ons kinderjare oorgelaat aan die skoenlapper

toe ons ‘n paar druppels olyfolie op die trappe laat staan het.

maar ons het vergeet om die kruisement oral te groet.

ons het vergeet om ons môre in geheim te groet.

die ink van die middag was wit

as dit nie vir die skoenlapper se boek,

wat rondom ons bly fladder het, was nie

 

skoenlapper, suster van jouself!

wees- voor my hunkering, en daarna,

dít waarna jy smag.

maar laat my ‘n broeder van jou vlerk wees

sodat my waansin koorsig mag bly.

skoenlapper, jy gebore uit jouself,

moenie dat ander my lot bepaal nie,

en moet my nie agterlaat nie

 

van een hemel

na ‘n ander

kom die dromers verby –

die skoenlapper

se diensmeisies dra spieëls van water.

ons kan wees wat ons moet wees.

van een hemel

na ‘n ander

kom die dromers verby –

 

die skoenlapper spin

haar bekleedsel

op ‘n naald van lig

om haar komedie te versier.

die skoenlapper is uit haarself gebore

en dans in die vlam van haar tragedie

 

~

 

halwe feniks

wat haar aangeraak het, raak ons ook aan,

en verberg die ooreenkomste tussen lig en vuur,

en die ooreenkomste tussen die twee roetes.

nee, ons liefde is nie dwaasheid of wysheid nie.

en gevolglik –

kom die dromers

van een hemel

na ‘n ander verby

en verby en verby

en vir ewig verby

 

die skoenlapper

is water wat hunker na vlug.

dit sypel van die sweet van jong meisies

en word langsaam ‘n wolk van herinnering.

die skoenlapper is wat die gedig nie sê nie.

haar absolute ligtheid breek woorde,

soos drome dromers breek

 

laat dit so wees!

laat môre se teenwoordigheid met ons wees.

laat gister se teenwoordigheid met ons wees.

laat vandag teenwoordig wees in hierdie feesdag

op-sy-gesit vir die skoenlapper se herdenking…

en,

laat die dromers

van een hemel

na ‘n ander verby kom

 

van een hemel

na ‘n ander

kom die dromers verby

 

Uit: Waarom het jy die Perd alleen gelaat? (1995) Vertaal deur Amira El-Zein en geredigeer deur Munir Akash en Carolyn Forché in Unfortunately, It was Paradise (2003) Vert. in Afrikaans deur Bester Meyer.

Magmoed Darwiesj. Vertaling in Afrikaans

Friday, January 3rd, 2020

Magmoed Darwiesj. Vertaling in Afrikaans. Vert. deur Bester Meyer.

.

die Aarde druk teen Ons

.

die aarde druk teen ons,

hou ons vasgevang in die finale gang,

om deurgang te vind

moet ons ons ledemate verloor –

die aarde knyp ons vas

 

as ons maar net koring was

sou ons dalk kon doodgaan

en tog bly lewe.

as sy maar ons moeder was

sou sy ons kon temper deur genade.

as ons maar prente van rotse was

behoue in ons drome soos spieëls…

 

ons werp ‘n blik na die gesigte

in hulle finale geveg vir die siel

van die wat dood gemaak sal word

deur tussen ons te bly.

ons betreur hulle kinders se fees

 

ons het die gesigte gesien

van die wat ons kinders sal uitgooi

uit die vensters van dié finale ruimte.

‘n ster poleer ons spieëls…

 

waar moet ons heen gaan ná die laaste grens?

waar moet die voëls heen vlieg ná die laaste hemel?

waar moet die plante slaap ná die laaste teug van lug?

ons skryf ons name in die karmosyn mis.

ons eindig die loflied met ons vlees.

hier sal ons dood gaan

-hier- in die finale gang,

hier of daar,

ons bloed sal olyfbome plant…

.

 

Uit: Minder Rose (1986) soos vertaal uit Arabies deur Munir Akash en Carolyn Forché in

Unfortunately, It was Paradise (2003) In Afr. vertaal deur Bester Meyer.

Magmoed Darwiesj. Vertaling in Afrikaans

Thursday, January 2nd, 2020

Magmoed Darwiesj. Vertaling in Afrikaans. Vert. deur Bester Meyer.

.

Identiteitskaart

.

Skryf neer!

ek’s ‘n Arabier,

my identiteitsnommer: vyftig duisend

ek het agt kinders

en ‘n negende een oppad na die somer.

sal dít jou kwaad maak?

 

Skryf neer!

ek’s ‘n Arabier,

werksaam saam my mede-werkers by die steengroef.

ek het agt kinders,

ek breek vir hulle brood, klere en boeke

vanaf die rotse…

ek smeek nie vir aalmoese by jou deure nie

en kruip nie rond op jou drempel nie

so, sal dít jou kwaad maak?

 

Skryf neer!

ek’s ‘n Arabier,

ek het ‘n naam sonder titel

geduldig in ‘n land

waar my mense grimmig is.

my wortels hier ingegrawe voor die geboorte van tyd.

voor die opening van tyd se kringe,

voor die denne- en olyfbome,

voor die gras begin spruit het.

my vader is van die arbeidsklas,

hy het geen adellike afkoms nie

en my oupa was ‘n kleinboer

sonder indrukwekkende stamboom.

ek is die glorie van die son geleer

voor ek geleer het om te lees.

my huis is soos die hut van ‘n wagter,

gebou met takke en met riet.

is jy tevrede met my status?

ek het ‘n naam sonder titel.

 

Skryf neer!

ek’s ‘n Arabier,

haarkleur: houtskool-swart

oogkleur: bruin

kenmerke: ‘n koord rondom die koufiyah op my kop;

my handpalms hard soos klip-

dít krap die wat dit aanraak

adres: ‘n lank vergete -verlate- dorpie;

sy strate naamloos;

sy mense in die veld of by die steengroef.

sal dít jou kwaad maak?

 

Skryf neer!

ek is ‘n Arabier,

jy het die boorde van my voorvaders

en die land wat ek bewerk het gesteel

saam met my kinders

en niks behalwe hierdie klippe

vir ons oorgehou nie.

so sal die Staat dít dan ook wegneem

soos wat daar gesê word?

Daarom:

Skryf dit neer aan die begin van die eerste bladsy:

ek haat geen mens,

en is nie ‘n indringer nie

maar as ek honger word

sal die vlees van die tiran my honger stil!

Pas op…pas op…vir my hunkering

en my gramskap

.

Identiteitskaart – Uit Blare van Olyf (1964) soos vertaal uit Arabies deur Salman Masalha en Vivian Eden. In Afrikaans vert. deur Bester Meyer.

  •