Gaius Valerius Catullus. Vertaling in Afrikaans
Versindaba kompetisie vir vertaalde gedigte (100)
Gaius Valerius Catullus. Vertaling van Latyn in Afrikaans. Vert. deur Jean Meiring.
Catullus se nege-en-negentigste vers
Jy was spelerig, heuningrige Juventius, toe ek
by jou ‘n soen soeter as die soetste ambrosia kom steel.
Maar my sonde had ‘n straf: vir die allerlangste uur
onthou ek hoe ek op die grootste kruis gekruisig word:
terwyl ek vir jou jammer probeer sê, wou geen trane
eens ‘n tikkie van jou wreedheid uitwis nie.
Want sodra die daad gepleeg was, het jy jou lippe –
gebaai in baie trane – met de laaste vinger skoongevee.
Niks wat mý gesig daar gelaat het, het agtergebly nie,
so asof dit die vuil speeksel van ‘n vuige sypaadjieslet was.
Boonop het jy nie ‘n stokkie voor my swaarkry gesteek nie –
ék deur die liefde geïnfekteer, op elke denkbare manier gemartel.
Daarom het daardie soen vir my uit ambrosia verander
in iets bitterders as die heel bitterste suringstele.
Omdat dít die straf is wat jy op hopelose liefde neer-
hamer, sal ek na dese nooit weer ‘n soen probeer steel nie.
***
Carmen 99
Gaius Valerius Catullus
Subripui tibi, dum ludis, mellite Iuventi,
saviolum dulci dulcius ambrosia.
verum id non impune tuli: namque amplius horam
suffixum in summa me memini esse cruce,
dum tibi me purgo nec possum fletibus ullis
tantillum vestrae demere saevitiae.
nam simul id factum est, multis diluta labella
guttis abstersisti omnibus articulis,
ne quicquam nostro contractum ex ore maneret,
tanquam commictae spurca saliva lupae.
praeterea infesto miserum me tradere Amori
non cessasti omnique excruciare modo,
ut mi ex ambrosia mutatum iam fores illud
saviolum tristi tristius elleboro.
quam quoniam poenam misero proponis amori,
nunquam iam posthac basia subripiam.
Bronverwysing:
Garrisson, Daniel H. (Red.) 2004. The Student’s Catullus, derde uitgawe. Oklahoma: University of Oklahoma Press.