Ted Hughes aan Anne Sexton: 9 Augustus 1967
Steur jou nie aan resensies nie.
Albei soorte is sleg, maar dié wat loof
is die slegste.
Hulle bevestig jou self-
tevredenheid – behalwe as hulle aanprys
dit waarvan jy self nie hou nie. En
hulle maak jou ongemaklik oor jou deugde
– soos wanneer jy ’n kind komplimenteer
met ’n onbewuste, aangebore gawe. En
hulle stig ’n ondergrondse verset, want alle
applous is die voorloper van skeltaal. En
hulle beroof jou van jou vrye anargie
deur jou ’n regeringspos aan te bied. En
hulle vervreem jou van jou demoon
wat dit verpes om dopgehou te word,
wat die gelukkigste is wanneer hy
incognito sy werk kan doen. En
hulle nihileer jou afstand van die sfeer
waar jy jou verse laat infiltreer – hulle
maak jou sigbaar in daardie einste sfeer. En
hulle bevredig jou ambisie wat afhanklik
is van radikale onrus en openbare afjakke. En
hulle vervals die lewe deur jou met jou verse
te laat saamval: jou gedigte verdien die lof
en jý eien jou dit toe. En. Ensovoorts.
Maar
slegte resensies funksioneer soos vernederings.
Jy voel jy moet elke reserwekrag monster (insluitende
God en die Duiwel) en die absolute werklikheid
produseer wat al die aanslae kan weerstaan. Hulle
stuur jou terug na die wildernis.
Hoe dit ook al sy:
steur jou nie aan resensies nie.
(Bron: Letters of Ted Hughes, Faber and Faber, 2007, pp. 275-276)
© Daniel Hugo, 2021