vir pa
ek het jou net een keer
hoor sing, my pa
toe jy vertel het hoedat jy
gewitbroek en gedas
vir die niggies
langs grootrivier
opsitkers gebring het
hoedat julle gesing
en gedans het
totdat julle vroemôre
sand uit julle vellies geskop het
o die witbroek het nie size nie
en die witbroek sit nie nice nie
die witbroek het nie plooi nie
en die witbroek sit nie mooi nie
en vir jou het ek
net een keer gesing, my pa
toe grootrivier stil geword het
in jou lyf
en noordkaap se sand
uit my hande
oor hout en blom geval het
miskien het jy tóé ook
tailor made witbroek
op die walle van ‘n goue rivier
o die witbroek het nou size
en die witbroek sit nou nice
gesing en gedans
© Thomas Deacon, 2021

Aller-moois, dié vers, laat die hart sing van plesier.
Skryf nog só, om ons mee te voer. Weg uit die koue…