René Bohnen. Lug en water

 

 

 

Lug en Water

v         v         v

v    o         o         o     v

v        ë          ë        ë         v

v              l           l     voëls             v

v               s          s         s                 v

vs                                                           sv

s                     w                                s

s                  o                             s

s              r                         s

s   sardien t j  i  e    s

My katoenrompie is ‘n skottel vol vissies

in Amanzimtoti, ek is 8 jaar oud, die sardientjies loop

en mense krioel op die strand, die wêreld is veilig, almal skep

silwer lyfies vir aandetes en middagetes en pret

Tien jaar later by die weir met die baie bome langs die Boemansrivier net voor sononder

swerm die spreeus in hulle duisende sodat koerante daaroor berig, ek is verlig

vandag om murmurasies en skole visse te sien vlieg in die lug

van Escher se alles en orals

kyk op ek kyk af ek kyk afenopenaf en op opper

sardientjies in Toti word voëls in Tilburg, ek is nou vyftig

en die klank van merels vloei in Escher se eie eerste taal

flankeer met die werklikheid, ons klinkers en vokale tessalasies van mekaar,

mekaar se woorde, Afrikaans Nederlands Nederlands Afrikaans

visse van eenderse voëls        en tog ook nie

die metamorfose geleidelik soos wanneer ‘n dogtertjie vrou word

die reis na oneindigheid, sardiens in die see, die kuns

van die onmoontlike, die murmurasies van gedigte bokant die bome

wanneer woorde ‘n lang silwer lap word wat onderwaters wapper

en uitspoel in jou mond soos ‘n sardynloop uit ons geheue; katoenklere

en houtskuite is flappende voëls en migrerende visse

by Tilburg en Toti

val gedigte in my skoot

 

© René Bohnen, 2021

 

Bookmark and Share

4 Kommentare op “René Bohnen. Lug en water”

  1. Patience with words are a valuable attribute

  2. Wat ‘n wonderlike gedig, René!
    Ik slaan hoendervleis uit van kroontjie tot toontjie. Het ek my Escher se “op up” met jou gedeel? Hier? Ek kan dit nie eers onthou nie. Skandalig van my. Dit is fantasties wat ‘n oplettende oog, ‘n goeie geheue en ‘n onbetwisbare taalgevoeligheid teweeg kan bring. Jy hét dit alles. Dit is uitstekend saamgevat in ‘n vormvers as voorspel vir die res van hierdie fyn woordspel. “Till we meet again, my dear friend. AC – After Corona.”

  3. Elisma van Zyl :

    Ek staan in verwondering oor die ongelooflike speelsheid met klinkers en vokale wat woorde vorm, vissies in die skoot van ‘n dogtertjie wat vlieg hoog in die lug. Jy mag maar Rene!! Jy is vir my nie net ‘n mentor, maar rolmodel in die digkuns.
    Uitstekende voorstelling en gedig!

  4. René Bohnen :

    Dankie vir die vriendelke kommentaar, Carina en Elisma. Thank you, Sharon, I appreciate your reading.