ligspirale
die voete van my voorouers
talm
in die koeltes van my tuin
hulle skedels hang halfmaan
in
die wind
fluister mantras
in my nek
luister
in skeure en grotte
lê ons
afdruk in vlermuismis
loop ons
spore oor strepe
dassiepis
terug
na die skulp
die dam en die donker
want alles was see
en alles was leeg
voor die sterre losgeskeur het
uit die niks-alom
in die begin
was die woord
ʼn naam wat uit sy nate bars
(Uit: in die niks al om, René Bohnen, Lapa, 2011.)