In die ware sin van die woord
Die vrou hardloop verby
die hadidas, droewig die oervoëls
wat op lamppale waak,
metaalstemme en -vere
die rooidag se gebroke kore. Die vrou hardloop ná
haar minnaar wég van hom,
sy praat deur die sluier
van alle dinge. In die ware sin
van die woord praat sy die taal
van water wat blom in heksagone
en kantpatrone en verdroom
in die heilige Graal. Sy praat, ‘n meteoor
verskiet soos ‘n skool visse vliet
in ‘n silwer parabool – die vrou betrag
haarself op ‘n afstand, dis nog ék, nog sý,
want verlange is ‘n verlengstuk
van die self en verlange reik na alles:
die Augustuswind rittel aan deure
en ruite en telefoonlyne sing
kwartnote en voëls. In die ware sin
van die woord praat sy met hom –
‘n kortgolf.
Die stilte knal
wisteria, haar naam is geskryf in storms
en dit eggo in donderweer.
Sy woon in ‘n huis van ysterklip,
‘n doodsveragtende eensaamheid. Sy praat
met hom deur rooskwarts wat sonsondergange sink
en terugbloei tot dagbreek,
of die harde reën van helder kwarts.
Snags hardloop sy verby
‘n bataljon kerse, die wagvuur
van spreuke wat eendag
sal terugkeer in die ware sin van die woord.
© Nini Bennett, 2021
