Mag die diep slaap jou dan deur Hilda Smits. Protea Boekhuis, 2021
Resensie: Nini Bennett
Die intimiteit van vervreemding
Die literêre gemeenskap het met verwagting uitgesien na Hilda Smits se tweede digbundel. Smits, ’n sielkundige, was die 2017-wenner van die Ingrid Jonker-prys vir die bome reusagtig soos ons was. Die digter stel nie teleur nie.
Dit is ’n uitdaging om Smits se jongste bundel, mag die diep slaap jou dan, te resenseer. Die digter breek amper met elke denkbare literêre konvensie. Dis ’n bundel van evokatiewe krag wat die grense en skynbare beperkinge van die taal toets om nuwe estetiese belewenisse van poësie in die hand te werk. Smits se enigmatiese gedigte word gekenmerk deur onvoltooide en gebroke sintaksis – soms selfs ’n doelbewuste versnipperde effek waarin byvoorbeeld werkwoorde, selfstandige naamwoorde of bywoorde weggelaat word. Dis verse wat allereers gekenmerk word deur beeldrykheid en die gebruik van vrye assosiasie. Die betekenis van die poësie onder bespreking bly in ’n toestand van flux; dit transendeer. As medeskepper van betekenis word die leser uitgedaag om die hiate in die poësie in te vul. Derrida se arbitrêrheid van uitgestelde betekenis, of différance, kom ter sprake. Hierdie leser se interpretasie van Smits se verse is subjektief en postuleer bloot een mening. Die titel kan bes moontlik só gelees word: mag die diep slaap jou dan: “mag”, as modale hulpwerkwoord, dui op ’n waarskynlikheid, ’n moontlikheid, dis nié ’n vaste of definitiewe gegewe nie, dit dui op nie-werklikhede of nie-feitelikhede. “dan”, die laaste woord in die titel, impliseer ’n wending. Die werkwoord “oorval” of “inhaal” ontbreek; “oorval” kan dui op ’n toestand van oorrompeling en berei die leser daarop voor dat die leesaksie, binne die droomstaat, in velerlei opsigte “oorrompelend” mag wees en eise aan die leser mog stel. Die titel aktiveer dus moontlikhede van slaap, drome, die domein van die onderbewuste waar handelinge en gewaarwordinge vloeibaar word. Dis die newelwêreld waarin die gestaltes, gebore uit die brein se tetagolwe, hul opwagting maak. Paul Celan se uitspraak, “the poem today shows a strong tendency towards silence” (1960) raak met die lees van die bundel weer relevant. Die verse is surrealisties en die leser dink waarskynlik aan Uys Krige se seminale voorwoord in Éluard en die surrealisme (1962), wat steeds staan as testament vir surrealistiese poësie in Afrikaans.
“Een van die sleutels tot die skatkis van die onderbewussyn, het Freud bewys, is die droom. Byna die helfte van ’n mens se lewe word aan slaap gewy. Soos Nadeau dit uitdruk, die skat wat ’n mens snags in jou slaap vergaar, verkwis jy in kleingeld bedags […]. Die droom, dus, is bron van poësie: die slapende droom, die droom uit daardie geheime grensgebied tussen werklike slaap en uiteindelike wakkerword, asook die wakende droom gevoed deur die onderbewussyn. Die droom moet by die digter die penser dirigé, die gerigte of beheerde gedagte, vervang; die poësie ‘moet praat van siel tot siel […]’. Die digter is nie langer slegs ‘sonore eggo’ of profeet of siener nie; hy word nou bo alles magicien of towenaar […]”.
“Diep slaap” figureer as assosiatiewe spel in die droomwêrelde van Hipnos en die dood, Tanatos. Die invloede in Smits se werk is onder meer Breyten Breytenbach, Gert Vlok Nel, Gilbert Gibson, e.e. cummings, Ingrid Jonker en die Russiese rolprentmaker, Andrei Tarkofski, maar Smits is geensins ’n epigoon van enigeen nie.
Baudelaire se beskouing dat poësie ’n universele analogie is waarin geen beperkinge op die woorde of beelde wat die digter byeen bring, bestaan nie, en waarin die oorrompelende aard van die dromer/digter se leefwêreld ondersoek en gesublimeer word, vind relevansie hier. Laasgenoemde stem ooreen met Freud se beskouing dat die vrye assosiasie van taal die meganisme word waarin die wêreld van die onderbewuste bestudeer kan word; die drome, die konflik, die parapraksis, ensomeer. Hierdie spontane neerskryf van gedagtes sonder selfsensuur het ’n groot invloed op psigoanalise. En vrye assosiasie by die spreker-digter wek uiteraard ook vrye assosiasies by die leser, byvoorbeeld Poe se bekende uiting “…all that we see or seem / is but a dream within a dream”. Die tradisionele spelreëls van poësie geld nie vir Smits se jong oeuvre nie. In haar geval herskik die digter die konvensies van poësie.
Van die opsigtelike stilering is kosmeties; doelbewus en selfbewus. Die onkonvensionele grootte van die bundel val op – dit is ook ’n bundel wat sal uitstaan op ’n boekrak, letterlik en figuurlik. Die ongetitelde kunswerk op die omslagontwerp toon ’n collage van die kunstenaar, Benjamin Silberstein, wat klaarblyklik Hilda Smits se eggenoot is.
Die distorsie van taal of gemelde gebroke sintaksis kom gereeld voor. Vir die oningeligte leser mag van die verse selfs as gibberish vertoon, maar die onus berus op die leser om die verse te voltooi. Let as voorbeeld op die volgende.
Die invoeg van parentese in ’n gedig:
“as die morfien jou
dit sneeu iewers in ’n ander land
inhaal” (36)
Reël 2 is ingevoeg – ’n ander lesing is met ander woorde “as die morfien jou / inhaal”, wat die titel, “mag die diep slaap jou dan (inhaal)”, eggo. Smits se gebruik van parentese word ook gekenmerk deur hakies, ’n breuk met kousaliteit of ’n afwesigheid van kommas of aandagstrepe: met ander woorde die nomale interpunksie ontbreek. Die funksie van hierdie tegniek is onder meer om die willekeurigheid van die onderbewuste te beklemtoon.
Die spel met fonts: “as jy ’n ligtoring was / op ’n mooi blou dag / as jy ’n ligtoring was / en langs jou ’n klein blou vlaggie” (50) dui op die visuele verandering wat afstand teweeg bring. Die kleiner font-grootte (wat hier deur kursivering aangedui word) trek die leser se aandag na die spreker-digter se bemoeienis met ortografie.
Die weglaat van woorde in hulle onderskeie woordsoortposisies noop die leser om die ontbrekende woorde in te vul.
viool gespeel in die aand soos wafferse
sodat die verkeer soos muise stil geword tot stillstand ge-
om vir ons & die huis ’n kokon van lig agter &
ons dirigent die bonkige asdrom van baie hande […] (6)
“Die bonkige asdrom van baie hande” herinner op assosiatiewe vlak aan dié van dromgrawers waarin die handeling om te dirigeer ontluister word – dit wat verhewe is, word nou banaal gemaak. Verder eksploiteer die digter die taal in “tot stillstand ge-om”, waarin die ontbrekende ‘k’ in “gekom” die verkeer se abrupte tot-stilstand-kom treffend verbeeld. Om dit in gewone omgangstaal te stel: daar is ’n “method in the madness” in Smits se werk, alhoewel die lees en ontrafeling van die verse waarskynlik meer op ’n intuïtiewe as ’n kognitiewe vlak geskied. Op tekstuele vlak lees die taalfoute, of pogings om laasgenoemde te korrigeer, soos parapraksis of verdoeselde Freudiaanse glipse. Die verse se betekenis kan ambivalent óf oop wees; as voorbeeld dié ongetitelde gedig op p. 20:
as jy vlieg klein (geheim) in die kajuit die lug blou sal jou elke haar asem–
opgehou verder as die oog se bal verder as die aarde & als Potchefstroom daarop
oor die kontinent haar konsonante kryger regop ! in die lang lang gras
sal jou Stuyvesant in die hempsak sal jou ( )
Die bundel se rubrisering is onkonvensioneel. In die “inhoud” agter in die bundel word die inhoudsopgawe aaneenlopend, soos ’n stuk bewussynstroom, aangegee; tog, met die lees van die onderskeie dele vind die leser telkens ’n oop bladspieël wat mag dien as onderbrekings in hierdie stuk bewussynstroom. Die ongewone idioom waarin die verse beweeg vorm egter nie ’n patroonmatigheid in die leesaksie nie. Die leser word uitgedaag tot selfrefeksie en Barthes se scriptible (writerly) is hier van toepassing. Die leser bevind hom in die oneindigheid van meervoudige betekenis; van betekenis wat by wyse van die superponering van woord en visuele effek sy opwagting maak in die bundel. mag die diep slaap jou dan is met ander woorde ’n literêre aanbod en beslis nie ’n lisible teks, waarin verbruikersvriendelike, voorafbepaalde konvensies en gepaardgaande betekenis noodwendig aangebied word nie.
Die losse rubrisering geskied in ses dele – bygesê, dis vir die leser om te besluit of ‘n bladspieël op ’n verposing of blaaskans (Luftpause in musikale terme) dui.
Temas soos liggaamlikheid en die intieme verwysings in die tweede persoon, die “jy” as minnaar en/of ander sibbe, herhaal. Binne die konteks van vrye assosiasie lees ek die herhalende leitmotiewe as déjà-vus wat spontaan en willekeurig deur die teks bly vleg. Die inleidende motto (5) vorm deel van dié déjà-vu wanneer die digter se jeugherinneringe aan bome via haar debuutbundel deursypel:
’n eerste gedagte jy was toe al bloekombome
& al die lug daar om soos ’n valskerm
Die eerste reeks gedigte het ’n nokturniese strekking. Donkerte, nagrokke en motte vorm kodes wat herhaal. “die huise staan in die nag” (12) lei ’n kleindorpse sfeer binne, waarskynlik Potchefstroom, waar die digter grootgeword het. Op p. 20 word daar dan ook inderdaad verwys na die dorp, Potchefstroom. Smits skryf hoogs persoonlike poësie wat kan staan as universele betekeniskorrelate vir die leser. Die spreker se belewenis van skool, ’n moeder, vader en tante kom volgende aan die beurt. Die gevoel van angs, vervreemding en anomie kenmerk hierdie gedigte. Temas oor die spreker se familie, soos dit voorkom in die debuutbundel, herhaal – selfs detailverwysings na die rooi Anglia; dit kan binne die konteks van vrye assosiasie uitgebrei word na meer digterlike déjà-vus.
In die tweede reeks word temas soos die liefde, asook die siekte van ’n vader, belig. Smits se openingsvers “ek het jou lief en jou hande klein” (25) herinner aan die kunsgrepe van die reeds gemelde rolprentvervaardiger, Andrei Tarkofski, een van Smits se muses. Daar word klem gelê op sensitiewe atmosfeerskepping en die indrink van die statiese beeld. “mag jy van 9 lewens” (27) se slotreël eggo die gelyknamige bundeltitel; die sterwende se fases van afskeid word beskryf as dié van woede, weerloosheid en pyn. Die digter se vername duimafdruk is waarskynlik die gebruik van ongewone en mooi trope, wat op ’n diep synsvlak sin maak.
as die morfien jou
dit sneeu iewers in ’n ander land
inhaal
toe ek begin draf
die groot hart stil in afwagting soos ’n rooi granaat
vlak water & lig die oneindige longe
stuur jy ’n swerm swaels soos ’n sagte oorlog deur die lug
bo my
toe die morfien jou soos sneeu inhaal
soos swart letters wat nog samehangend
vir ’n oomblik
in die groot wit lug (36)
Hierdie hipnotiese gang word voortgesit as ’n kort intermezzo wat opgevolg word deur ’n reeks beeldgedigte. Kuns vorm ’n vername motief in Smits se poësie. Die aanspraak is op die visuele en hierdie ekfrasis tree in gesprek met verskeie kunstenaars se werk.
In die vers, “Pienk engele, De Kooning” (46 – 7) val die fokus op kleur en die taktiele belewenis van die skildery. Die meer aggressiewe gebruik van die kleur pienk, wat ’n seksuele vroulike ondertoon sinjaleer, kom voor. ’n Kenmerk van die skildery is die biomorfiese figurasie van die skilder se werk wat neerslag vind in Smits vers. In “Rooskleurige dagbreek by Louse Point, De Kooning” (48) word gesinspeel op die digter, deur aktivering in die titel van Homeros se gunsteling aanhaling in Die Odussea, naamlik “emos d’erigeneia phane rhododaktulos eos”, oftewel “but when early-born rosy-fingered Dawn appeared…” Hierdie pienk tint word by wyse van liggaamlikheid soos “ribbebene, die lang dun arms van krieke, oë, die swak maar vasberade arms van ’n kewer, bene, handpalms”, ensomeer vergestalt.
In ’n ander beeldgedig, “Tuin op die vlak, Paul Klee” (49), ’n waterverfskildery, word die digter Arseny Tarkofski, die reeds genoemde rolprentmaker se vader, betrek by wyse van interteks: “daar was die allerhande kleure van struike soos kerse ná ’n feesmaal afgebrand” (49). “My sight, which was my power” resoneer met dié vers:
“I am a candle. I burned at the feast.
Gather my wax when morning
arrives
so that this page will remind you
how to be proud and how to weep
[…]
In “Goeie plek vir vis(se), Paul Klee” (50), ook bekend as “Fish magic”, word die magiese droombelewenis ontsluit.
“Georgia O’Keeffe – hande, Alfred Stieglitz” (52), ’n evokatiewe swart en wit foto geneem deur Stieglitz van sy destydse model en toekomstige vrou, O’Keeffe se hande (1919), vorm een van meer as 300 foto’s wat hierdie kunstenaar van haar geneem het. Smits se sensitiewe beelding van die hande tref en roep velerlei verse van Ingrid Jonker voor die oog. Hande as subjek kom volop voor in Rook en oker en Kantelson.
Smits se bemoeienis met liggaamlikheid – patos met die mens se lyflike weerloosheid – val vervolgens op in “Marthe in die bad, Bonnard” (54 – 5). Die subteks rondom Bonnard se vrou, Marthe, is geil – daar is bewerings van bedrog, verraad en geestessiekte aan haar kant, maar Smits verkies om haar beeldgedig “lig” en “roserig” te hou, ’n kleur wat ook aandag in die skilderye/beeldgedigte onder bespreking geniet.
Die digter het deernis met eensame, wanaangepaste kunstenaars, soos haar keuse van André Kertész en Van Gogh aantoon. Die vers, “Washington Square, winter, Andre Kertész” (53) verwys na die kunstenaar se 1954-foto. Hy het na ’n nuwe woonstel in New York Washington Square Park getrek, vanwaar hy van die twaalfde verdieping met ’n telefotolens die plein afgeneem het. Kertész het al meer geïsoleerd geraak soos hy ouer geword het en die fisieke afstand tussen kunstenaar en fotosubjekte dui op ’n emosionele onttrekking van die wêreld. Hierdie eensaamheid en vervreemding word gesimuleer in die vers. Smits werk ook met die tekstuur van woorde en beelde: let op die ruimtelikheid van die veerligte sneeulandskap.
val die sneeu geluidloos soos ’n silwer vurk /
soos die wonder van ’n valk bo die wit vlaktes van ’n bord gehang
jy is ’n lang oogknip
’n ballonnende hart in die korrel van ’n jas
’n babalokomotief / van asem
met voete van seegras sal jy al langs die rivier jou ysige metgesel
want die dag soos ’n klein dood behoort net aan jou
wat die breë stilte soos ’n sneesdoekie in die hand van ’n mier oop / vou (53)
Die gepaardgaande eensaamheid van kunstenaarskap word voorts belig in “Reën, Van Gogh” (58) en “Koringlande met sipresse, Van Gogh” (59). Dis insiggewend om daarop te let dat die omgewing nou ’n waarnemer word van van Gogh: “jy is weer alleen / die ver huise weet dit / die bome ook” (58). Die skilder het die skildery gemaak tydens sy vrywillige verblyf in Saint-Rémy-de-Provence, ’n inrigting vir geestesversteurdes. Die vers suggereer ’n gevoel van versadiging. Die skilder ontgin die Bybelse metafore rondom graan, al het Van Gogh tydens dié periode fasette van sy Christelike geloof verruil vir ’n meer spirituele siening.
Die belewenis van Smits se poësie is die intimiteit van vervreemding.
Die vyfde reeks gedigte bevat verse aan die spreker se vader, aan Brixton B (heel moontlik die ontslape musikant Brixton Barnard), die spreker-digter se eggenoot, asook verwysings na plekke soos “Highgate Cemetery” (67). Die laaste reeks bevat drie kameegedigte.
As die diep slaap jou dan is ’n bundel waarin poëtiese taal in hoogspanning verkeer; dis inderdaad ’n boeiende teks soos die voorganger, die bome reusagtig soos ons was. Die mees geslaagde gedigte is waarskynlik dié waarin die mooi beeldspraak behoue bly by wyse van ‘n meer tradisionele sintaksis – soms grens die linguistiese spel in die bundel aan oordaad, wat die aandag van die trope weglei. In haar tweede bundel gebruik Smits meer progressiewe tegnieke om Verfremdung in die hand te werk. Die digter skryf téén die weerstand van poëtiese konvensies in, ’n bundel wat in verskeie opsigte verruk en grense skuif.
Hierdie wegdoen met konvensies loods egter ook ’n totale aanslag op die leser. Laasgenoemde sal moet besluit of die bundel vernuwing bring en of die ooraanbod willekeur en doelbewuste ondermyning van tradisie die leser se stamina sodanig beproef dat dit ’n leesversperring skep. Hoe dit ook al beskou word, die digter verdien lof vir die dapper digterlike aanbod. Hierdie bundel onderskryf die gedagte dat poësie ’n intieme en vertroulike ervaring tussen die digter en die leser is.
Marlene van Niekerk wys op die
ambagtelikheid in die kuns. Toegegee,
daardie slotreels wat ons goeie digters
so meesterlik hanteer, is by Hilda Smits
afwesig. Nietemin vind ek van die verse
se eindfrases asemsnakkend briljant
en evokatief; oneindige eindes
wat op niks beslag le nie,
die slot en sleutel weggegee,
nou in die hand van die leser,
medeganger.
Hilda is ‘n ongelooflike talentvolle digter met geweldige insig en kennis. Haar werk is betowerend en spreek diep tot my.
‘n Algemene stuiwer in die beurs. Dis seker uitdagend/ mooi/ diepsinnig/ poëties gevorderd om in ‘n gedig verskillende elemente/ beelde te vermeng en tegelyk te verbrokkel, en daardeur vele betekenisse daarin te versteek. Ek dink net die fusie en fissie moet nie die gedig half-voltooid laat dat die gemiddelde leser dit waarskynlik nie sinvol vind nie, selfs steurend of sinloos vind. Ek dink ‘n digter moet maar oppas dat ‘n gedig of bundel uiteindelik raak soos (of gesien word as) ‘n mecanno-stel waar al die boutjies en moertjies en plaatjies so verkeerd aanmekaar gesit is dat die eindproduk nie werk nie. Anders word dit ‘n filosofiese/ akademiese oefening om te verstaan wat gesê word.
Joan, jy stel dit pittig met “… die retoriese spel wat sy met die leser speel.” Ek kan ongelukkig nie ‘n mening uitspreek oor presies hoe Hilda Smits hierdie spel in die loop van haar bundel speel nie, aangesien ek nog nie die bundel onder oë gehad het nie.
Wat my wel interesseer is hierdie “spel”. Digters wat in hierdie tyd skryf, het nie sjablone waarvolgens hulle die spel kan speel en wat dit vir die leser makliker maak om saam te speel nie. (Behalwe as die digter een kies, soos ‘n sonnetvorm ens.) Dus is die spel vir eietydse digters gewaagder omdat daar groter onsekerheid kan wees wat die leser nie kan of wil ontsyfer nie.
Die aanwending van uiteenlopende en oënskynlik onverwante elemente in ‘n gedig laat my dink aan die musikale vorm, die madrigaal, Drie tot ses stemme sing dieselfde woorde maar elkeen volgens ‘n eie melodielyn – wat uiteindelik dan ‘n sinvolle geheel vorm.
Hier is ‘n gedig van Octavio Paz wat hy “Madrigaal” noem. Hierin keer hy die konvensie om – die verskillene “stemme” in die verskillende reëls sê elkeen iets anders as die omringende reëls, soos die melodielyne in die madrigaal. En wat gesê word, is oënskynlik meesal verbandloos.
Paz speel sy spel met die leser en dié wat wil saamspeel kan met genotvolle insigte beloon word. Mag daar baie lesers wees wat Hilda Smits se bundel ook so ervaar.
Madrigal
Octavio Paz
Más transparante
que esa gota de agua
Madrigaal
Deursigtiger
as hierdie waterdruppel
in die vingers van die klimop
my gedagtes skep ’n brug
tussen jouself en jouself
Kyk na jou
meer werklik as die liggaam wat jy bewoon
vasgevang in die middel van my gemoed
Jy is gebore om op ’n eiland te woon
Vert. uit Spaans: DWV
De Waal: as groot digters soos Pound, Louw, Stevens oor die skouer sou kyk, sou daar nooit grense gebreek word nie.
Ek dink hier o.m. aan Fanie Olivier se bundel Apostroof wat die afwesige geliefde aanspreek.
Afwesig/aanwesig. Baie slim inspeel op die tradisie van die lykdig.
Hierdie bundel van Smits is uitdagend in die retoriese spel wat sy met die leser speel.
De Kooning versus surrealisme. Droom vs. realiteit.
Subversie op ‘n slim manier.
Ek vind ook hierdie resensie baie nuttig en insiggewend. Die resensent sê:
“Laasgenoemde sal moet besluit of die bundel vernuwing bring en of die ooraanbod willekeur en doelbewuste ondermyning van tradisie die leser se stamina sodanig beproef dat dit ’n leesversperring skep.”
Die bostaande belig ‘n probleem waarmee baie (miskien alle) digters te doen het. Watter eise kan en mag jy aan die leser stel? Moet jy ten eerste so skryf dat die gedig maklik verstaanbaar is – of kan jy verwag dat die leser hom of haar intellektueel moet inspan om die “sin” in die gedig te ontdek?
In die Afrikaanse letterkunde dink mens dan ook dadelik aan die bekroonde bundel “Kaar”.
Elk het met die lees van hierdie resensie ook gedink aan ‘n essay, “Cracks in the Oracle Bone” deur die Amerikaanse digter, Brenda Hillman, in Poetry Foundation. Sy skryf indringend oor “moeilike” en “ontoeganklike” poësie en hoe die leser wel sin kan maak van sulke gedigte deur dit reg te benader. Een van die voorbeelde wat sy noem, is ‘n gedig van boeklengte (!) deur die digter Harryette Mullen, “Muse and Drudge”.
Sapphire’s lyre styles
plucked eyebrows
bow lips and legs
whose lives are lonely too
Sit dít in jou pyp en rook dit!
Insiggewende resensie, Nini.