Langsamer Satz
na ʼn komposisie vir strykkwartet deur Anton von Webern
Stadig stadigaan
spoel idille landskap oor ons. Soos kamermusiek.
ʼn Pad wat krinkel langs boekenhout-en bakbos
verby, sweemsels lig, hakiesdoring
teen die luglyn op,
kerende ritme in elke maat.
Bo spitse stulp maan en ster
terwyl voordag verskiet tussen tortels
verlore aan eie sleuteltoon.
In hierdie uur van oorgawe waar
hemele oopbreek tot rooi disa,
het jy na my toe gekom,
skugter so-as ʼn grysbok
deur soel ruigtes,
fluisterend, sotto voce.
Kyk! ons woud hou mos en orgideë
waar skadu’s mekaar ontmoet,
kom drink uit die waters van minuet
laat kirduiwe ons akkoorde wees.
Ons is bergwind en blouriet, rotskuil, die fynbos
wat kophoogte groei en elke loodregte hang.
Ons is kusduin en riviervlakte.
Ons is tyd en ewigheid.
Kom liefsteling laat ons oomblik vir oomblik wy
luister luister
hoe sag die gewrig aan strykersnaar …
Toe verlange ons na verre hoogtes dra
was die weerklank in jou oë
tenger
soos die tik-tik-pizzicatogepluk.
© Theresa Postma, 2021