Rooigety
Hoogwater
het die eb gespoel
tot teen die vasteland.
Rooi soos gerwe kelpgras.
Rooi soos die wriemelende krewe wat hyg na asem.
Jy hoor die weerbarstige wind, die branders
en krassende tobies, swart geëts in vlug.
Jy sien hoe die sand die dood vashou
gapermossels, garnale, perlemoen,
ʼn seisoen van verlies.
Jy wonder oor die rooigety, die plate
algebloei stuwend soos koors
al met die oewer langs.
Hoeveel lewe sal nóg smoor
as siste bondel?
Hoeveel droefenis bly?
Toe die vloed terugdein,
die donker gekrys wegsterwe,
waad
anderkant die laaste boei:
opdrifsels in die water.
© Theresa Postma, 2021