It is well with my soul
na ʼn gesang geskryf deur Horatio Spafford
vir Jaco Postma 11/08/1966-18/12/2020
Vandag is dit jou sterftediens,
Oukersdag. 24 Desember.
Geen klokke, geen kantate, geen Kerssang.
Hoe vreemd voel alles nie
die kapeldeure, massaal en lomp
die houtbalke spitsvormig na bo
die gesigte agter maskerlap, die droewige oë
dan ook, die versugting binne-in my…
Nog éénmaal hou ek jou vas.
Laat wind die vlagdoek halfmas vul
dit waai oor die noutes van tyd
terwyl ieder ʼn kers aansteek.
“When sorrows like sea billows roll.”
Êrens klink ʼn gehaa-haa-deda op gedrae noot.
Kon ek maar gaan
teen die disselblou lug
al met die klip-en skuilkranse langs
om melktou se eerste sterre
of dalk ʼn takkie bessierooi te pluk.
Hoe heilig jou gedagtenis,
intens my weemoed.
Nou bly die ylende geur van grafblom
die gedenkblad, die geliefdes
en tot herinnering
ʼn foto van jou, my man, bedetas aan die hand.
“Thou wilt whisper Thy peace to my soul.”
Toe kersevlam soos erekruise staan
herhaal die hadeda sy eenklanktone
en in die wegkwyn
lê deur die loodglasvensters stukkies haakdoringveld
waar jou liefde wat eenvoud was
inbrand op oulandsgras…
“It is well, it is well with my soul,” sing ek saam.
© Theresa Postma, 2024
Ek het die @datum verkeerd verstaan, die gedig is in 2021 geskryf
My vriendin KOOOK!
Dankie dat ek weer iets van jou kan lees.
Baie dankie Anne-Marie!