Theresa Postma. Stiltes

 

Stiltes

 

Hoe stil kon dit raak onder die wildevy

gestrek oor die begin tot einde

met wewerneste wat ‘n hemel hang

as jou gedagtes verstrengel soos

ranke, en nie woorde word…

 

Onthou jy hoe ons ure kón praat?

Ons had ‘n innigheid vir taal wat vloei,

passie vir die skryfkuns gemeen.

Jou woorde soos saad wat ‘n holte vind

het steunwortels verby klip gegroei,

dáár diep ingegrawe.

 

“Skryf jy nog gedigte?”

wou jy toe van my weet,

die laaste keer.

 

Nou reik stiltes ons aan

woord vir woord langs mekaar

en altyd vlam die rooikopwewers

asof fakkeldraers

in gewisheid van ‘n ewigheid.

 

© Theresa Postma, 2021

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Theresa Postma. Stiltes”

  1. Ik vind dat een mooie praatvers in uw rijke taal, van een (aan mij,maar dat zegt in uw vaderland niet veel) onbekende Zuid-Afrikaanse Dichter.

    Ben verheugd met deze poëzie trefplaats. (Alleen vraag ik me af wat voor censuur uw blad onderhoudt, met de verdwijning van de verzen van Beste Meyer, die hier vanochtend noch prijjkten in al hun glorie? “Dichtkunst van het rein-kritische Laboratorium”, leek dat me wel, waarover ik heel graag meer zou hadden willen lezen…Een nieuwe experiment?

    Als het even kunt, wilt uw het niet aan me sturen? Voor privé gebruikt alleen maar, en voor mijn verzameling as poezieliefhebber?). Zie mijn adres hier boven. Dat zal ik bezonder waarderen…

  2. Die gedig van Bester Meyer is inderdaad steeds op die blad. Dit het net effens afgeskuif omdat ander plasings intussen gemaak is. U vind dit by die volgende skakel:
    https://versindaba.co.za/2021/12/23/bester-meyer-gebruiksaanwysings-vir-lees-smits-gedig/

    Theresa Postma het tot dusver nog nie in Afrikaans gepubliseer nie. Ons plaas gedurende Desember ook gedigte van nie-gepubliseerde digters, waarvan sommiges wel baie goed is.

    Groete. Marlies Taljard (Inhoudsbestuurder)

  3. Dit is ‘n riem onder die hart om ‘n gedig te lees waarin beelding ingespan word om die primêre praatwerk te doen. Baie sensitiewe sake word konkreet, byna objektief maar nie sonder gevoel nie, uitgebeeld. Die slotstrofe bring ‘n teer wending, ‘n voorspel en suggestie van ‘n abstrakte samesyn, ‘n durende verhouding wat tydloos en ewig blyk te wees.