sjamaangrot
brand die bondels soet mpepho
brand die bergwierook
met die koors in my
word ek
elandbul mpofu
word ek bruin
en motwit pigment
op kwarts of perkament
koggelmanders by die kambergkrans
die dassies in amfiteaters rots
groot lammergeier in sy oker vlug
mierleeutjies onder warm sand
hoe flikker hulle
in my hande as ek in sirkels
binne sirkels binne sirkels
die oerpad vat
ja my voete verf ʼn gedig
oor die gedugte gang
van tyd en lig
o die muse is ʼn maalklip
en alle bokke stof
(Uit: In die niks al om, René Bohnen, Lapa, 2011.)
(Fusion toonsetting deur Lisa Lorenz, gesing deur Lisa Lorenz, Zürich. https://www.youtube.com/watch?v=Ywd-_7O4Rxc )
