Sewe haikoes
I
In die fakulteit
van my gedigte lewe
fauna en flora.
II
Risoom behou glo
die idee van geworteld
met ’n wortelstelsel.
III
Olifante dwaal
deur my gedigte en loop
en breek bome af.
IV
Die kort-kort en lang
plaaslyne van die voëls
weerklink oor die werf.
V
Die wildepiesangs
voor die sitkamervenster
blaai terug winter toe.
VI
Die afgesaagde
naboom het in sy spinthout
’n volmaakte ster.
VII
Ek lees Ezra Pound
in die trein en sien druppels
op die vuil blare.
© Johann Lodewyk Marais. 2022