waar daar eens ‘n see was
op hierdie plek hier waar ek nou staan
tussen bitterbosblomme en stapels klip waarlangs
’n skaaphond waak oor kaalgeskeerde skape
was daar eens ’n see
ek weet dit want onder my voete
is die fossiel van ’n vis en twee verdrinkte vroue
teen die heuwel is oorblyfsels van hul huis
gebou met skulp en klei
en daar is ’n waterigheid in die verte
soos sweet op jou vel
toe jy nog bokke gejag het saam met !kweiten-ta-//ken
oor hierdie karooveld
waar daar eens ’n see was
Hierdie gedig – ’n inskrywing vir die jaarlikse AVBOB Poësiekompetisie – is in die AVBOB Poësiebiblioteek gepubliseer, en word herpubliseer met toestemming van die AVBOB Poësieprojek. Klik hier om toegang tot meer as 17 000 gedigte in al 11 amptelike Suid-Afrikaanse tale te kry: https://www.avbobpoetry.co.za/Poem/ViewAll